Amanda is die NWU in Vanderbijlpark se elite netbalafrigter

Amanda Dreyer is ʼn netbalafrigter sonder weerga, en is tans een van slegs twee elite netbalafrigters in die Sedibeng-streek. Sy is ook die afrigter van die Noordwes-Universiteit (NWU) se netbalspan in Vanderbijlpark.

In die tyd waarin die Covid-19-pandemie die sportwêreld vir eers tot stilstand gedwing het, is Amanda baie opgewonde oor haar span se deursettingsvermoë en hulle voortgesette verbintenis tot die spel. Volgens haar is sy daagliks in aanraking met die spelers, wat steeds fluks aan die oefen is, en kan sy nie wag om te sien wat die span aanstaande jaar gaan vermag nie.

Netbal bruis in haar are

Amanda het van kindsbeen af ʼn natuurlik aanvoeling vir netbal gehad en haar vernuf op die baan het gesorg dat sy altyd vir ʼn ouer ouderdomsgroep gespeel het.

“Op skool is ek elke jaar as die Speler van die Jaar aangewys en het ook provinsiale kleure verwerf. Ons is tans net twee elite afrigters in Sedibeng en word streng deur Netbal Suid-Afrika gereguleer. Ons moet ook gereeld kursusse bywoon,” vertel sy.

ʼn Elite afrigter word toegelaat om op universiteitsvlak en hoër af te rig en slegs die room van die oes mag op hierdie titel aanspraak maak. Haar spanne het onder haar afrigting al vele ligas gewen en sy het ook al die titel van Sedibeng- provinsiale afrigter agter haar naam geskryf.

“Om ʼn elite afrigter te wees, is ’n voorreg, maar ook harde werk,” sê sy.

Vir harde werk was dié boorling van Potchefstroom nog nooit bang nie. Almal wat haar ken, weet sy durf alles met oorgawe aan. Haar benadering tot netbal is ook eenvoudig, maar effektief. “Netbal is ʼn spansport en dit gaan nie oor die individu nie, maar oor wat jy vir jou spanmaats beteken. Balhantering, voetwerk, uithouvermoë en spangees dra ook tot ʼn goeie speler by. My doelwit is om elke speler te ontwikkel en te ondersteun.”

Amanda Dreyer 

Submitted on Fri, 05/22/2020 - 15:14