Alumnus onder die top-200 jong Afrika-leiers

Eric Ntumba is ’n man met ’n missie: om verandering na die Afrika-vasteland te bring. En hy doen dit deur deurlopend sy leierskapsvaardighede te verfyn en deur ’n sterk standpunt in te neem oor kwessies wat die vasteland raak.

Hierdie trotse alumnus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs nog ’n toekenning by sy reeds indrukwekkende curriculum vitae gevoeg. Hy is vroeër hierdie maand op die gesogte Choiseul 100 Africa 2018-lys ingesluit. Die jaarlikse lysting – soos dit deur die Institute Choiseul opgestel word – identifiseer en gradeer die 200 jong Afrika-leiers van 40 jaar en jonger wat in die nabye toekoms ’n belangrike rol in die ontwikkeling van Afrika sal speel.

Die lys sluit opkomende sakeleiers, suksesvolle entrepreneurs, en beleggers, ens. in wat die dinamiek en hernuwing van ’n hele vasteland verteenwoordig en die hoop van ’n hele geslag op hulle skouers dra.

As hoof van die korporatiewe, privaat en diaspora-bankwese by die Equity Bank van die Kongo in die Republiek van die Kongo (DRK) is Eric ’n toonbeeld van leierskapsuitnemendheid en bevind hom in die 140ste posisie op die lys.

In reaksie op die lysting sê Eric dat hy baie geëerd voel om as een van die top-200 ekonomiese leiers van die toekoms beskou te word. “Dit is vir my die erkenning van ’n buitengewone loopbaan en van my aktiewe bydrae tot die ontwikkeling van Afrika,” sê Eric, en voeg by dat hierdie erkenning dien as bevestiging van potensiaal en dat dit hom aanspoor om aan te hou om sy beste te gee.

Meer oor die Choiseul 100 Africa-lys

Choiseul 100 Africa verteenwoordig ’n jaarlikse studie deur die dinkskrum van die Choiseul Institute wat die top-200 jong ekonomiese leiers van die toekoms uit Afrika klassifiseer.

Verskillende kriteria word in ag geneem om die geselekteerde profiele te klassifiseer: die beeld en reputasie, die professionele ontwikkeling en vaardighede, die invloedsfeer en die leierskappotensiaal. Die puntetotaal wat in die verskillende kategorieë van hierdie kriteria behaal word, bepaal uiteindelik die plek van elke profiel op die finale ranglys.

Die top-100 word van die eerste tot die honderdste plek gelys. ’n Tweede lys gee ’n honderd bykomende profiele wat tussen die 101ste en 200ste posisie in drie kategorieë geplaas word: drie sterre, twee sterre en een ster. Eric het ’n tweestergradering ontvang.

Meer oor Eric                                          

Eric het reeds in sy studentedae aan die Vanderbijlparkkampus van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) homself as buitengewone leier bewys.  Hy was op daardie stadium aan die voorpunt van onderhandelinge toe die PU vir CHO met die voormalige Universiteit van Noordwes (UNIBO) saamgesmelt het.

As eerstejaarstudent is hy as die kultuurbeampte op die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) verkies en het in 2003 as die VSR se voorsitter gedien.

Hy het ’n BSc-graad in Inligtingstegnologie aan die Universiteit verwerf, en ’n diploma en meestersgraad in Publieke Administrasie van die toonaangewende Franse Skool vir Administrasie, ENA, waar hy ook studente op die administrasieraad verteenwoordig het. Tydens sy studies aan die Universiteit het hy die universiteitsraad se toekenning ontvang vir uitmuntende leierskap en diens gelewer.

As leier was hy betrokke by die instelling van die Mandela Washington-genootskap vir jong Afrika-leiers, asook die Africa France-program vir jong leiers.

Hy was in 2013 een van die eerste ontvangers van die gesogte NWU Alumni Uitnemendheidstoekenning.

Eric Ntumba.

 

Submitted on Thu, 11/08/2018 - 12:31