Alumni-kantoor bring hulde aan onderwysers

"As jy ooit iemand op ’n troontjie moet plaas – doen dit dan met onderwysers. Hulle is ons samelewing se helde." Hierdie woorde van ’n Amerikaanse skrywer, Guy Kawasaki, maak sin wanneer ’n mens dink aan onderwysers se taak wat uit soveel fasette bestaan. Dit word dan duidelik dat ’n onderwyser nie bloot iemand is wat onderrig gee nie.

’n Onderwys het op ’n unieke en diepgaande wyse ’n groot impak op die lewe van elke leerder wat aan hulle toevertrou word. Deur hierdie impak stuur hulle hul studente in ’n oneindige getal potensiële toekomsmoontlikhede in.

Met hierdie redenasie in gedagte hou die Alumni-kantoor van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark op Saterdag 1 Julie 2017 sy eerste saamtrek van onderwysers. Die geleentheid word by die Quest Konferensielandgoed in Vanderbijlpark gehou.

Volgens Zanele Ngobese, die kampus se alumni-koördineerder, bring hierdie geleentheid nie net alumni terug na die kampus toe nie, maar hou hulle ook ingelig oor belangrike sake rakende die NWU. “Hierdie byeenkoms skep op die ou end ’n platform waar professionele persone – in hierdie geval onderwysers – ’n netwerk met mekaar kan vorm en terselfdertyd hulle weer tot hulle alma mater te verbind,” verduidelik Zanele.

Die kampus se adjunkvisekanselier (AVK), prof Linda du Plessis, sal die alumni verwelkom, waarna verteenwoordigers van verskeie ondersteuningsafdelings hulle onderskeie dienste en opsies wat op die gebied van onderwys vir nagraadse studies beskikbaar is, deel en verduidelik. ’n Lid van die NWU se konvokasie, prof Marius Stander, tree ook op en wil die alumni aanmoedig om by die konvokasie aan te sluit. Laasgenoemde is ’n formele struktuur wat die welstand van die universiteit bevorder en deur verteenwoordiging op die NWU Raad sy sake aktief beïnvloed.

“Die onderwysprofessie verteenwoordig die hartklop van enige generasie, want as onderwysers op hulle beste funksioneer, kan hulle die hele manier verander waarop hulle studente die wêreld en hulle lewens wat voor hulle lê, waarneem,” verduidelik Zanele, en dui aan dat die BEd-groep amptelik een van die eerste groepe van die kampus se alumnigemeenskap sal word.

Goeie geselskap en goeie kos
Zanele sê dat aangesien daar niks meer tradisioneel Suid-Afrikaans is as potjiekos en goeie geselskap nie, is die byeenkoms ’n viering van goeie kos en wonderlike geselskap. “Ons gaan daardie kole aan die gloei kry, as vriende saamkom en die funksie laat lewe,” sê Zanele en voeg by dat die byeenkoms om 13:00 begin.

Vir meer inligting kontak die alumni-kantoor deur ’n e-pos te stuur aan Zanele.ngobese@nwu.ac.za, of kontak haar by 016 910 3250.

Zanele Ngobese, alumni-koördineerder op die NWU se kampus in Vanderbijlpark.

 

Submitted on Thu, 07/06/2017 - 08:35