Aksiegebaseerde navorsing lei tot positiewe omgewingsverandering

Klimaatsverandering is nie iets wat ver weg, in ander streke en met ander mense gebeur nie – dit is ’n verskynsel wat ’n impak op almal, oral het. Dit is ’n les waaraan graad 7-leerders blootgestel word deur middel van ’n navorsingsprojek waarby navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark betrokke is.

Hierdie aksiegebaseerde navorsing sal plaaslike gemeenskappe rondom Vanderbijlpark help om die impak van klimaatsverandering spesifiek op hulle omgewing te verstaan, sê Irene Muller, dosent in fisiese wetenskap in die Skool vir Opvoedkundige Wetenskappe.
Irene is deel van ’n navorsingspan in die navorsingsnisarea Omgewingsopvoeding vir Volhoubare Ontwikkeling (OO vir VO) wat die impak van klimaatsverandering op die gemeenskappe om die NWU se drie kampusse ondersoek.

Hierdie werk het bande met die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kultuurorganisasie (UNESCO). Die UNESCO Wêreldaksieprogram oor opvoeding vir volhoubare ontwikkeling het vyf prioriteitsaksiegebiede, waarvan een is om die kapasiteit van opvoeders en opleiers te bou. Dit is ’n aksiegebaseerde navorsingsprojek wat met gemeenskappe, onderwysers en leerders werk om te identifiseer hoe hulle klimaatsverandering en die veranderinge en probleme in hulle onmiddellike omgewing waarneem. “As fasiliteerders neem ons aan die navorsing deel in plaas daarvan om ’n leiersrol te speel,” sê Irene, wat haar PhD tydens die Mei-gradeplegtigheid op die kampus in Vanderbijlpark ontvang het.

Die projek betrek drie skole in die gemeenskappe van elkeen van die NWU-kampusse. In Vanderbijlpark werk Irene met die graad 7-leerders en onderwysers by die Parkridge Laerskool. “Die eerste stap is om die onderwysers te bemagtig, aangesien die resultate van die program afhang van die werk wat hulle met die leerders doen,” sê sy.

Die onderwysers sal dan na verskillende maniere soek om klimaatsverandering by die kurrikulum en hulle lesse te inkorporeer, soos om bome te plant en die eienskappe van die water in klein damme op die skoolterrein te ondersoek. Die leerders sal verslag doen oor hulle ervarings en dit met vennootskole deel.

“Die navorsingsprojek het ten doel om, met die hulp van onderwysers en gemeenskapsverteenwoordigers, leerders te betrek om aksienavorsing te doen om noodsaaklike natuurlike hulpbronne soos grond, water en inheemse plante en diere te identifiseer en stappe te doen wat plaaslike gemeenskappe sal help om ’n rentmeestersrol ten opsigte daarvan te speel,” verduidelik Irene.

Tydens ’n later fase sal hulle virtueel skakel met leerders wat soortgelyke projekte plaaslik en internasionaal uitvoer. Dit sal deel vorm van ’n groter projek met ’n internasionale samewerker, prof M Brydon-Miller, van die Universiteit van Louisville, VSA.

Dr Luiza de Sousa, navorsingsleier vir OO vir VO, sê: “Die doel van die navorsing is om opvoeding vir ’n volhoubare toekoms te verskaf, en positiewe samelewingstransformasie in skole onder onderwysers, leerders en gemeenskapslede te bevorder. Dit vereis dat almal wat betrokke is, moet saamwerk om plaaslike kennis te integreer om te beplan en veranderinge te maak om klimaatsverandering-verwante impak te hanteer.”

Die groep se bevindings sal na die afhandeling van die projek gepubliseer word, maar die werklike sukses sal wees om die verandering te sien wat dit sal bring vir die gemeenskappe wat hulle bedien. “Die bemagtiging van ’n onderwyser met vaardighede om hulle klas na ’n werklike rivier te neem, die besoedelingsvlakke saam te toets en dan te gesels oor oplossings wat volhoubaar sal wees, is wat ’n denkverandering en volhoubare verandering in die omgewing teweegbring,” sê Luiza.

Meer oor OO vir VO

Die navorsingsnisarea Omgewingsopvoeding vir Volhoubare Ontwikkeling (OO vir VO) se doel is om leer en opleiding te transformeer deur navorsing oor die integrasie van volhoubaarheidsbeginsels by alle onderwys- en opleidingsomgewings te doen. Die navorsing streef daarna om die kapasiteit van student- en praktiserende onderwysers te bou om OO vir VO doeltreffend te lewer.

Hulle doel is verder om nuwe kennis op hoëronderwysvlak onder studente en onderwysers in die basiese-onderwyssektor te genereer, en om vakkennis, -vaardighede en pedagogie oor omgewingsopvoeding te bevorder om transdissiplinêre onderrig en leer in skole te stimuleer.

Verder wil hulle onderwysers blootstel aan nuwe onderrigpraktyke wat kritiese denke en burgerlike wetenskaplikes aanmoedig, en onderwysers se verbintenis tot onderrig oor klimaatsverandering bevorder.

Submitted on Wed, 05/23/2018 - 15:05