Akker ’n Europese reus

Daar kan seker nie ’n meer kontrasterende vertoning wees van twee rugbyspelers se persoonlikhede as toe die vuisgeveg tussen Schalk Brits en Akker van der Merwe in 2019 plaasgevind het nie.

Die twee Springbok-hakers – Brits in die blou van die Bulle, Van der Merwe in die swart van die Sharks – het mekaar tydens die Superrugby-wedstryd behoorlik aangevat. Albei het rooikaarte gekry. Ná die wedstryd het die twee ’n foto laat neem waar hulle elkeen ’n Castle Light drink, en hulle was die ene glimlagte.

Dit is welbekend dat die 2019 Wêreldbeker-wenner Brits ’n opperste duiwel is. Dit is nou ’n goeie soort duiwel. Hy is ’n lewenslustige poetsbakker wat altyd ’n kwinkslag gereed het. Wat dalk nie so bekend is nie, veral ná daardie kwaai kopstamp wat met hulle onderonsie gepaard gegaan het, is dat Van der Merwe so innemend is as wat ’n mens maar kan kry.

Van der Merwe was ’n paar jaar gelede alreeds goed in die Leeus se rugbykamp gevestig toe hy vir ’n magdom toekennings by die NWU se Rugby-instituut se jaareindfunksie benoem is.

Niemand het verwag dat Van der Merwe die funksie sou bywoon nie, maar daar was hy. Nie vir persoonlike gewin nie, en nie vir nog ’n toekenning om by sy immergroeiende versameling te voeg nie. Nee, hy was daar uit respek en liefde vir sy spanmaats en die instelling wat hom so na aan die hart lê.

Dit is ’n bewys van wie hy is. Hy het met warmte en passie gepraat. Sy nederigheid en innemende persoonlikheid kon daardie aand duidelik gesien word.

Van der Merwe is in Vanderbijlpark gebore en het in George groot geword. Die 29-jarige, met drie toetswedstryde agter sy blad, bevind hom tans duisende myle van sy ou weivelde by die Sale Sharks in Greater Manchester, Engeland, waar hy groot indruk maak. Sy tyd by die Luiperds, Leeus, Racing Metro en Sharks was baie waardevol, en hy het die Sale Sharks gehelp om die premierskap-leer te klim.

Interessant genoeg het sy broer Duhan onlangs sy internasionale debuut vir Skotland op vleuel gemaak. Die jonger Van der Merwe speel provinsiale rugby vir Edinburgh. Sal dit nie wonderlik wees as die twee broers mekaar in hulle onderskeie nasionale kleure op die veld kan ontmoet nie?

Submitted on Wed, 02/24/2021 - 10:54