Die 30%-tariefbesluit deur die Verenigde State is nie goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie nie, en die potensieel negatiewe ekonomiese impak daarvan moenie onderskat word nie.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê hoewel dit nie onverwags is nie, die besluit ’n uitdagende ekonomiese teenwind vir Suid-Afrika skep.
“Die kwesbaarste sektore vir Suid-Afrika, soos landbou en motorvoertuie, bly tans erg negatief geraak tensy onderhandelinge op die laaste nippertjie steeds die situasie teen 1 Augustus kan verbeter. Dit is ook duidelik dat die jongste tariefbesluit van die Verenigde State enige oorblywende voordele neutraliseer van die belastingvrye toegang wat tot dusver onder die African Growth and Opportunity Act (AGOA) geniet is, en wat in elk geval waarskynlik nie later hierdie jaar deur die Verenigde State se Kongres hernu gaan word nie.”
Prof Parsons sê wat verder onseker bly, is die status van die dreigement deur president Trump om ’n bykomende 10%-tarief op BRICS-lede te hef.
“Die werklikheid wêreldwyd is dat die aggressiewe tariefbeleid van die Verenigde State ’n gefragmenteerde wêreldhandelstelsel skep wat ekonomiese onsekerheid verder aanblaas, voorsieningskettings ontwrig en ekonomiese aktiwiteit aan bande lê. Terwyl daar ’n groot hoeveelheid vrees oor die huidige situasie is, is Suid-Afrika nie sonder remedies nie. Aangesien die land ’n klein oop ekonomie het, bly dit noodsaaklik dat bilaterale onderhandelinge moet voortgaan om toekomstige beleggings en handelsbetrekkinge tussen die Verenigde State en Suid-Afrika te stabiliseer en te konsolideer.”
Prof Parsons verduidelik dat samewerking tussen die regering en die privaat sektor moet voortgaan om die bestendige identifisering van alternatiewe markte te versnel, waarvoor Suid-Afrika wêreldwyd mededingend moet bly.
“Die koste in Suid-Afrika sake te doen, is steeds te hoog. Dit raak dus nog noodsaakliker om spoedig groeivriendelike beleide te implementeer wat ekonomiese buffers sal bou en koste verminder op wyses wat Suid-Afrika ook in staat stel om ander wêreldwye terugslae met sukses te hanteer.”
Hy sê die ekonomiese herstel wat besig is om in Suid-Afrika pos te vat, sukkel tans om momentum te verkry. “Die beleidsagenda van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) vir ’n groeivooruitsig van 3% vir die bruto binnelandse produk (BBP) op die medium termyn vereis nou dringend ’n impuls, ’n inspuiting, ’n versnelling om te verseker dat die stertwinde die teenwinde in 2025 en verder sal troef.”