Aandag alle Sasolburg fempreneurs: skryf vandag nog in vir die NWU se Ondernemende Vroue-program

Entrepreneurskap is meer as net ʼn gonswoord: dit speel wêreldwyd ʼn groot rol in ekonomiese en sosiale ontwikkeling.

In ʼn opwindende wending is al hoe meer vroue besig om die oproep om entrepreneurskap aan te neem, wat ʼn paar dekades gelede heeltemal ondenkbaar sou gewees het.

Met dít in gedagte, bied die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, in samewerking met die nywerheidsreus Sasol, vanjaar die suksesvolle Ondernemende Vroue-program (EWP) ook aan vir vroue woonagtig in die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit.

Vroue met ʼn klein besigheid in die vroeë ontwikkelingsfases en wat in Zamdela, Sasolburg of Vaalpark woonagtig is, kan nou aansoek doen om aan die program deel te neem.

Gee gehoor aan die roepstem van entrepreneurskap

As jy wil deelneem aan die hierdie jaar se kortleerprogram vir nuwe besighede wat op vroue-entrepreneurs gemik is, en wat van Maart tot Augustus loop, sluit aan by die bhive EDC op Woensdag, 26 Februarie van 10:00 tot 14:00 op die kampus in Vanderbijlpark.

Jy sal tydens hierdie sessie ingelig word oor wat die program behels, hoe die keuringsproses sal verloop, en jy sal ook die geleentheid hê om jou besigheidsplan aan die keuringspaneel voor te lê. Die eerste programsessies neem vroeg in Maart ʼn aanvang.

’n Bewese prestasierekord

Sedert die ontstaan van die program is vroulike entrepreneurs in staat gestel om baanbrekers op talle gebiede te wees, soos in app-ontwikkeling, spyseniering, eiendomsontwikkeling, mode-en binnenshuise ontwerp, asook instandhoudingsbestuur.

Ander het unieke produkte en dienste ontwikkel en bekendgestel om vir verskillende nismarkte voorsiening te maak. Voorbeelde sluit in die verwerking van plastieksakke om ontwerpermatte vir die toerismebedryf te maak, ’n ekovriendelike mobiele motorwasdiens vir groot besighede, die vervaardiging van stene uit herwonne plastiekbottels, en selfs ’n taksidermiediens wat nommerpas vir die wild- en jagbedryf is.

Verskeie van die deelnemers aan hierdie program verskaf nou werk aan ander vroue in hulle onderskeie gemeenskappe en neem selfs jongmense as interns in diens, en maak hulle touwys en leer hulle die krag van entrepreneurskap.

Intydse sake-ondersteuningsdienste

Volgens Leonie Greyling, die EWP-koördineerder, lê die sukses van die jaarlikse program daarin dat dit intydse sake-ondersteuningsdienste aan vroue verskaf. Deelnemers word deur ’n omvattende kurrikulum geneem om hulle te help om besigheidsidees en markte te identifiseer, ’n goeie besigheidsmodel te ontwikkel, en uiteindelik hulle eie beginneronderneming suksesvol te inisieer. Tydens die proses word vroue nie net deel van ’n dinamiese portuurnetwerk nie, maar ontvang ook mentorskap van ervare entrepreneurs en kundige lede van die akademie.

Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos aan Leonie.greyling@nwu.ac.za

Submitted on Mon, 02/24/2020 - 12:41