NWU word die tennisparadys

Pot, stel en wedstryd. Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) is gaan die land se voorste tennisbestemming word wanneer vyf nuwe kleibane voltooi is. Hierdie bane, saam met tien hardebane en twee grasbane, maak dat die NWU ongeëwenaar is vergeleke met die aanbiedings van ander instellings wat bane en geriewe betref.

Die NWU is alreeds ’n gesogte gasheer, danksy die suksesvolle aanbieding van talle nasionale en internasionale toernooie soos die Davisbeker-uitkloprondte tussen Suid-Afrika en Nederland.

Die wêreld se deur staan nou waarlik oop, en daar is baie opwinding, asook afwagting.

“Almal wil reeds ons kleibane gebruik en hulle is nog nie eers klaar nie!” sê Heléne Botha, wat onder andere die tennisbestuurder by die Potchefstroomkampus is.  

“Die voorbereiding is gedoen. Ons wag net vir die klei uit Italië. Ek is al 19 jaar lank by die NWU en dit was nog altyd een van my drome. Om dit te sien gebeur, is so opwindend. Ons het vyf jaar gelede met die kleibaanprojek begin, en die rolbalbane is ook met grastennisbane vervang. Ons is ’n toegewyde span wat saam met ons sportdirekteur, Sheldon Rostron, en onder andere Riaan Venter van die Riaan Venter-tennisakademie aan die projek werk. Almal werk toegewyd saam om dit ’n sukses te maak. Dit is ’n wonderlike gevoel,” sê Botha.

Sy gaan voort deur te sê dat die NWU-sportspan eers gaan leer hoe om die nuwe bane behoorlik te bestuur voordat dit volgende jaar vir toernooie beskikbaar gestel sal word.

“Dit is moeilik, aangesien ons so gou as moontlik die bal aan die rol wil kry en ons het reeds so baie versoeke vir die gebruik van ons kleibane wanneer hulle gereed is, maar ons moet geduldig wees.”

Dit is hierdie benadering wat soveel vrugte vir sport by die NWU afgewerp het.

“Kyk net na al ons sportkodes en die gehalte van ons geriewe. Kyk na ons uitmuntende prestasies. Dit slaan ’n mens se asem soms weg.”

Hou hierdie ruimte dop om te sien watter nuwe hoogtes sport by die NWU nog gaan bereik.

Submitted on Thu, 08/25/2022 - 17:28