NWU-sterrekyker help om die wonderlike beelde van ’n magiese kosmiese “vuurwerkvertoning” vas te lê

Dit is vinniger as ’n oogknip, groter as ons hele heelal, en pulseer met ondenkbare intensiteit. Dit is een van die energierykste kosmiese gebeurtenisse wat tot op hede vanaf die aarde waargeneem en vasgelê is – ’n skokgolf wat oor 6,5 miljoen ligjaar strek.

Om hierdie magiese “vuurwerk” in gedetailleerde beelde waar te neem en vas te lê, het kundigheid en beplanning vereis. Prof James Chibueze, ’n navorser by die Sentrum vir Ruimtenavorsing aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het ’n baie betekenisvolle bydrae gelewer deur data van die nuwe MeerKAT-radioteleskoop te verwerk, wat dit moontlik maak om die skokgolf vas te lê.

Prof James verduidelik dat skokgolwe vorm wanneer galaksieswerms bots. Hy sê wanneer twee galaksieswerms mekaar deur middel van gravitasie aantrek, dit noodwendig ’n botsing tot gevolg het wat ’n skouspelagtige skokgolf veroorsaak.

Hy het ’n bydrae gelewer tot die werk van ’n span internasionale sterrekundiges van onder andere die Universiteit van Hamburg in Duitsland, die Nasionale Instituut vir Astrofisika in Italië, die Universiteit van Helsinki in Finland, die Nederlandse Instituut vir Ruimtenavorsing (Netherlands Institute for Space Research), die Suid-Afrikaanse Radiosterrewag en die Nasionale Radiosterrewag (National Radio Astronomy Observatory) in Charlottesville, VSA.**

Hulle referaat oor die verskynsel is in die vooraanstaande wetenskaptydskrif Astonomy & Astrophysics (A&A) gepubliseer.

Prof James het aan die tegniese deel van die navorsing gewerk deur as ’n lid van die MeerKAT Galaxy Cluster Legacy Survey (MGCLS) se tegniese werkgroep waarde by die verwerkte MeerKAT-data te voeg.

Daarbenewens het hy bygedra tot die wetenskaplike bespreking van die moontlike interaksie tussen ’n radiogalaksie (’n sterrestelsel wat straling in die radiofrekwensiestrek van die elektromagnetiese spektrum vrystel) en die suidelike agtergrond-mikrogolfstraling (’n verspreide sinchrotron*‑radiobron wat aan die rand van galaksieswerms aangetref word) van Abell 3667, ’n galaksieswerm.

Hy sê dat die Suid-Afrikaanse MeerKAT-teleskoop aan navorsers die sensitiwiteit en resolusie bied om dowwe, grootskaalse strukture (wat meer as 60 keer groter as ons sterrestelsel, die Melkweg, is) in die heelal te bestudeer. Die Abell 3667-galaksieswerm is een voorbeeld van sulke ongelooflike resultate.

 

Dikwels in die nuus vir sy deel aan die ontdekkings

Prof James was ook verlede jaar in die nuus en het in Nature verskyn vir sy bydrae oor die ontdekking van stroke warm gas (spuitstrale) wat buig wanneer hulle magnetiese velde teëkom (lees hier: https://news.nwu.ac.za/new-discovery-lands-nwu-researcher-spot-top-science-publication).

Hy was die enigste navorser uit Afrika wat in 2020 ’n bydrae gelewer het tot die Japannese radio-astronomieprojek oor die baie lang basislyn-interferometrie-verkenning (VLBI-verkenning) van radio-astrometrie (VERA). Hierdie projek het bevind dat die Aarde vinniger beweeg as wat oorspronklik gemeen is en dat dit amper 2 000 ligjaar nader aan die gravitasiekolk in die middel van die Melkweg is as wat vroeër bereken is.

Om die hele referaat te lees, besoek: https://www.aanda.org/component/article?access=doi&doi=10.1051/0004-6361/202142658

 

*Sinchrotron-emissie is radiofrekwensiestraling wat gegenereer word wanneer deeltjies wat teen snelhede naby aan dié van lig beweeg in ’n magnetiese veld gekoppel word.

**Volledige lys van samewerkende instellings:

  • Hamburger Sternwarte, Universität Hamburg
  • Instituto di Radioastronomia, Boglogna
  • Minnesota Institute for Astrophysics
  • Department of Physics, University of Helsinki
  • Dipartimento di Fisica e Astronomica, Università di Bologna
  • SRON Netherlands Institute for Space Research
  • Sentrum vir Ruimtenavorsing, Noordwes-Universiteit
  • Department of Physics and Astronomy, University of Nigeria
  • US Naval Research Laboratory
  • NRAO – National Radio Astronomy Observatory, USA
  • SARAO – Suid-Afrikaanse Radiosterrewag
  • Department of Physics, School of Natural Sciences, UNIST, Republic of Korea
  • Centre for Radio Astronomy Techniques and Technologies, Rhodes Universiteit
  • School of Physical Sciences and Centre for Astrophysics and Relativity, Dublin City University

 

....

Die massiewe galaksieswerm Abell 3667. Prof James sê individuele sterrestelsels is te klein om in hierdie foto te onderskei. “Die eweredige wit kleur toon die verspreiding van die gas wat die ruimte binne die sterrestelsels van hierdie galaksieswerm binnedring. Die rooi strukture volg die twee groot skokgolwe wat deur die vorming van die galaksieswerm gegenereer is.”

....

’n Nabyskoot van die grootste van die twee skokgolwe, waar die komplekse filamentstruktuur duidelik gesien word. Die meeste van die sigbare sterrestelsels is nie deel van die swerm nie. Dit is óf in die agtergrond of aan die voorkant daarvan. Die grootte van die Melkweg – as dit op dieselfde afstand vanaf die skokgolf was – word ook getoon.

....

Prof James Chibueze.

Submitted on Thu, 02/24/2022 - 09:54