NWU se Leopard’s Lair-kompetisie – topstudentepreneur deel advies

Die sperdatum vir inskrywings vir die 2020-weergawe van die Noordwes-Universiteit (NWU) se gewilde Leopard’s Lair-besigheidskompetisie kom nader, en alle studentepreneurs word uitgenooi om deel te neem.

As jy meen dat jy ’n innoveerder met ’n unieke besigheidsidee is, is hierdie kompetisie net vir jou, en bied jou die geleentheid om jou besigheidsdrome waar te maak. Vra maar net vir Melanie Pieterse, die 2019-wenner van hierdie kompetisie.

Wenadvies van ’n oorwinnaar van die Leopard’s Lair

Wanneer Melanie Pieterse vir jou sê dat ’n suksesvolle entrepreneur deurlopend moet bou, meet en leer, moet jy luister. Melanie het in 2019 die Leopard’s Lair-besigheidskompetisie gewen met haar entrepreneursonderneming, The Period Package, en sodoende nie net as beginner-fempreneur indruk gemaak nie, maar ook mede-entrepreneurs aktief ondersteun.

Volgens Melanie moet studentepreneurs nie toelaat dat vrees vir mislukking hulle kniehalter nie. “Doen dit net! Jou idee kan dalk net die deurbraak wees wat die wêreld nie besef het hulle nodig het nie. In my geval was die kompetisie die aansporing wat ek nodig gehad het om my idee in aksie te omskep.”

Sedert sy aan die kompetisie deelgeneem het, het Melanie haar visie en gedagtes oor entrepreneurskap selfs verder uitgebou, gemeet en uitgebrei, en tot die gevolgtrekking gekom dat dit alles met volgehoue aksie te doen het. Volgens haar is ’n idee sonder aksie niks behalwe vermorsde potensiaal nie.

“Met die nuwe normaal wat ons tans ervaar, moet ek as entrepreneur nou weer van vooraf bou, meet en leer. Dit is soos ’n rit op ’n tuimeltrein, maar beslis die moeite werd! Selfs as jy misluk, wen jy steeds, omdat jy iets gedoen het – jy het geleer en iets beters gebou. En in die proses vorm jy die toekoms van ons samelewing. Ons het entrepreneurs nodig, ons het nuwe idees nodig. Doen dit dus net en skryf vir die kompetisie in. Jy sal nie teleurgesteld wees nie.”

Meer oor Leopard’s Lair

Dit is hierdie jaar die vierde keer dat die kompetisie aangebied word en daar sal studente wees van regoor die NWU se geografiese voetspoor – asook hulle medestudente van die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) – wat na vore tree en hulle entrepreneursidees kom voorlê met die hoop om hulle besigheidsdrome waar te maak. Studente word ook deur die kompetisie gemotiveer om toekomstige werkgewers en werkskeppers te word deurdat hulle die waarde van entrepreneurskap as loopbaankeuse besef.

Die NWU se bhive EDC is aan die stuur van die kompetisie. Die formaat van die kompetisie is op soortgelyke nasionale en internasionale besigheidsuitdagings soos Shark Tank en Dragon’s Den gebaseer.

Voorgraadse en nagraadse entrepreneurs moet voor die einde van Julie inskryf deur die volgende webwerf te besoek: http://commerce.nwu.ac.za/bhive-enterprise-development-centre/leopards-lair-business-competition.

 

Melanie Pieterse.

 

 

Submitted on Thu, 06/11/2020 - 11:01