NWU maak nuwe moontlikhede vir fempreneurs oop

Dit was ’n aand van hoë modes en feesviering wat goed gepas het by die gevierde groep vroulike entrepreneurs wat gereed staan om die werksomgewing aan te pak. Die 2018 Gala-toekennings van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Ondernemende Vroue-program het die 28 vroue wat die program suksesvol voltooi het, onlangs by die Emerald Hotel in Vanderbijlpark gevier.

In sy verwelkomingstoespraak het prof Herman van der Merwe – die adjunkdekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe – die vroue lof toegeswaai vir hulle toewyding aan die program, en aan hulle erkenning gegee as die nuwe rolspelers in hulle plaaslike gemeenskappe.

Sedert die ontstaan van die program, genaamd die EWP, het die universiteit deur middel van sy bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (bhive EDC) reeds 95 vroue opgelei om onafhanklike entrepreneurs te wees.  

Die program verteenwoordig ’n dinamiese langtermynsamewerking tussen die bhive EDC en die kundige in entrepreneurskapsontwikkeling, Leonie Greyling van Aequis Consulting.

Beginner- vroulike entrepreneurs word deur hierdie vlagskipprogram bemagtig om nie slegs hulle besigheidsdrome waar te maak nie, maar ook om met trots aktiewe bydraers tot die Suid-Afrikaanse ekonomie te wees.

Die program het oor die afgelope ses jaar vroulike entrepreneurs in staat gestel om baanbrekers op talle gebiede te wees, soos in app-ontwikkeling, spyseniering, in die konstruksiebedryf, mode-ontwerp, binnenshuise versiering, asook instandhoudingsbestuur.

Ander het unieke produkte ontwikkel en bekendgestel om vir verskillende markte voorsiening te maak. Voorbeelde sluit in ’n ekovriendelike mobiele motorwasdiens vir groot besighede, die verwerking van plastieksakke in ontwerpersmatte vir die toerismebedryf, en selfs ’n taksidermiediens wat nommerpas vir die wild- en jagbedryf is.

Verskeie van die deelnemers aan hierdie program verskaf nou werk aan ander vroue in hulle onderskeie gemeenskappe en neem selfs jongmense as interns in diens, en wys en leer hulle die krag van entrepreneurskap.

Twee groepe vroue het toekennings by die galageleentheid ontvang, naamlik dié van EWP Vanderbijlpark en EWP Sasolburg. Die program word tans ook by die NWU se kampus in Mahikeng aangebied, terwyl die waarskynlikheid vir ’n groep in Pretoria ondersoek word.

Die suksesvolle klas van EWP Sasolburg 2018 Foto: Chilli Picnic

Die suksesvolle klas van EWP Vanderbijlpark 2018 Foto: Chili Picnic

 

 

Submitted on Tue, 10/16/2018 - 15:35