NWU huisves grootste Spar Netbalkampioenskap ooit

Eenduisendagthonderd deelnemers en beamptes. Ses-en-negentig spanne. Een Noordwes-Universiteit (NWU) wat die grootste Spar Netbalkampioenskap ooit aanbied.

Die Fanie du Toit Sportterrein het van 8 tot 13 Augustus behoorlik uit sy nate gebars met netbaltalent, en die NWU het weereens bewys dat daar nie ’n toernooi bo sy vuurmaakplek is nie.

Die topspanne het in die Senior A-afdeling meegeding, sake is in die o.21-kampioenskap uitgespook en ’n menigte spanne het in verskeie subdivisies deelgeneem.

“Die kampioenskap het uitstekend verloop en die spelers het dit baie geniet. Hulle het geloop en sing soos hulle na die bane toe stap. Dit was iets om te sien. Ons het ook baie positiewe terugvoer gekry van voormalige nasionale spelers, wat nou as kommentators dien,” sê Heléne Botha, vrouesportbestuurder van die NWU se Potchefstroomkampus en president van Noordwes Netbal.

Die skouspelagtige openingseremonie het die pas vir die toernooi aangegee, met die Hoër Volkskool Potchefstroom se eie Amira Willighagen wat verrigtinge op ʼn hoë noot afgeskop het. Dié 18-jarige sopraan, wat in Nijmegen, Nederland gebore is, het in 2013 hoofopskrifte gehaal toe sy op negejarige ouderdom die talentsoekkompetisie, Holland’s Got Talent, gewen het.

Met elke pawiljoen op die Fanie du Toit se hoofrugbyveld volgepak en ʼn enorme Suid-Afrikaanse landsvlag wat die veld volgemaak het, het Amira die gehoor met haar weergawe van die volkslied in vervoering gehad. Sy het die openingseremonie afgesluit met ʼn onvergeetlike uitvoering van My African Dream. 

“Dit maak my bly om te sien hoe netbal in ons land groei. Suid-Afrika het dalk nie die beste Statebondspele gehad nie,  maar dit is deel van die groeiproses. Kyk net hoe ontwikkel die sport in landelike gebiede. Hierdie spanne wen miskien nie baie wedstryde nie, maar die belangstelling is daar. Die opgewondenheid is daar en dit is gesond vir die sport,” sê Botha.

Submitted on Thu, 08/25/2022 - 16:46