NWU-alumni en vriende hou wêreldklaskonsert

Potchefstroom – Alumni van die Noordwes-Universiteit (NWU) het die afgelope naweek vir die heel eerste keer ’n virtuele konsert aangebied met musikante van verskeie genres, maar wat almal vanuit die NWU-stal kom.

“Hierdie konsert is maar net nog een van die kreatiewe wyses waarop die NWU gedurende die Covid-19-uitbreking kontak met sy alumni en belanghebbers hou. Die wet verbied enige byeenkomste, en om mense bymekaar te bring, is ’n groot deel van ons werk,’’ sê Nicolize van der Walt, afdelingshoof van die NWU Alumnikantoor.

Louis Janse van Rensburg en Christi Cloete wat deel van die belanghebberkantoor is, het die idee vlerke gegee en die resultaat is hierdie topgehalteproduksie.

Die konsert het ook die NWU Covid-19-reaksiefonds bemark. Hierdie fonds is gestig om geld en toebehore in te samel vir studente wat nou noodgedwonge aanlyn moet klasdraf.

Alumni en vriende van die drie kampusse is geïdentifiseer en het die uitnodiging om deel van die unieke konsert te wees, gretig aanvaar. Selfs die aanbieders, Tim Theron, akteur en fliekvervaardiger, en Sinki Mlambo, ’n kommunikasiekundige en mediapersoonlikheid, is trotse alumni van die universiteit.

Jacques Imbrailo, plaasseun van die Vrystaat en nou ’n bariton wat wêreldgehore verower, was deel van die sterspan. Perserverance Mkhonto was die jongste alumna wat haar talent gedeel het – dié gegradueerde regstudent het ’n groot liefde vir musiek en haar fluweelstem het baie goeie reaksie uitgelok.

Aan klassieke meesterstukke was daar geen tekort nie. Operasanger Tshilidzi Ndou het sy bydrae vanuit Texas gelewer en weereens bewys waarom die NWU hom as beste operasanger vereer het en hoekom hy musiekbeurse losgeslaan het.

Lebona Sello, voormalige studenteraadslid en musiekstudent, het op sy beurt ’n hoendervleis-vertoning gelewer, terwyl Jacques le Roux, ’n internasionale tenoor, die virtuele gehoor se tonge behoorlik los gehad toe hulle kommentaar gelewer het.

Bouwer Bosch, Anna Davel, Jako Meyer en Deon Meiring is talentvolle alumni wat reeds vir baie jare die NWU se beeld na buite bevorder, en dit het gevoel asof ’n mens hulle soos ou vriende in jou sitkamer verwelkom. Die talentvolle egpaar en klavier-duo Pierre en Sophie van der Westhuizen het ook sonder huiwering hulle talent gedeel.

“Daar was ook reeds ’n virtuele fietsren en twee pretdrawwe. Mense moet nou uitkyk vir ons virtuele gholfdag op Saterdag 18 Julie 2020 wanneer jy van enige plek in die wêreld kan afslaan en jou staal op die gholfbaan wys,’’ sê Van der Walt.

 

Submitted on Thu, 06/25/2020 - 11:58