Deidre mik om vir Olimpiese Spele te kwalifiseer

Hierdie tyd van die jaar klou die humiditeit in Nigerië se hoofstad, Lagos, soos kleefgom aan jou lyf vas. Dit is drukkend, aanhoudend. Dan is daar Benin, Nigerië se susterland aan die westekant, net ʼn duisend kilometer bo die ewenaar. Die hawestad Cotonou is vasgevang tussen die Atlantiese Oseaan en Nokoué-meer, waar dit bekend is dat seerowers amok saai.

Hierdie bestemmings is in die Noordwes-Universiteit (NWU) se pluimbalkampioen, Deidre Jordaan, se visier ná ʼn geskiedkundige, hoewel hartbrekende, Statebondspele-veldtog.

Deidre was deel van die Suid-Afrikaanse span wat vir die eerste keer tot die kwarteindronde van die Statebondspele kon deurdring. Hoewel die span ongelukkig nie hul suksesroete in Birmingham, Engeland verder kon stap nie, bly dit ʼn merkwaardige prestasie.    

“Dit was die eerste keer dat Suid-Afrika dit uit die groepfases van die Statebondspele gemaak het, dus was dit fantasties vir ons om in die kwarteindronde te kon speel. Dit was ʼn ongelooflike ervaring en ek is bevoorreg om saam met ʼn wonderlike groep mense in ʼn span te kon speel. Ek wil ook graag vir Yonex Suid-Afrika bedank, wat my onlangs begin borg het en my voorsien het van al die toerusting wat ek vir die Statebondspele nodig gehad het.”

Sy is skaars tuis of die vlerke word weer gespan.

“Ons is nou vir so twee weke terug dan gaan ek en my dubbelsmaat, Amy Ackerman, Lagos in Nigerië toe en die naweek daarna gaan ons Cotonou toe in Benin. Ons moet punte bymekaarmaak om vir die Olimpiese Spele in 2024 te kwalifiseer. Ons noem hierdie fase ons voor-Olimpiese-kwalifikasieperiode, want die amptelike Olimpiese kwalifikasie begin eers op 1 Mei 2023. Maar, teen daardie tyd wil jy genoeg punte hê sodat jou posisie beter is vir die lotings. Wanneer die kwalifikasie begin, is jy hoër op die ranglys as gevolg van die punte wat jy opgestapel het.”

In Oktober volg ʼn toernooi in Egipte, waarna Zambië en Botswana wag, voordat sy 2022 met ʼn toernooi in Kaapstad groet.  

Dit is ʼn uitmergelende reisskedule wat aan haar beursie kou, maar daar is geen keer aan haar vasberadenheid om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer nie. Solank sy ʼn raket kan swaai, sal 2024 nie haar visier verlaat nie.

...

Deidre Jordaan

 

Submitted on Thu, 08/25/2022 - 17:04