Beroepshigiëne-studente beïndruk die industrie

Ses studente wat beroepshigiëne op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Potchefstroom studeer, het elkeen ‘n studiebeurs van Select PPE ontvang.

Select PPE is ‘n leier in die verkryging en verspreiding van gehalte en toepassingspesifieke produkte wat mense se gesondheid en veiligheid beskerm. Die onderneming het slegs 22 beurse landswyd toegeken, waarvan ses aan NWU-studente was.

 “Ons is verheug oor hierdie beurse – dit wys dat Select PPE ook die gehalte van ons studente raaksien,” sê prof Anja Franken, ʼn dosent in beroepshigiëne. “Ons is trots op hierdie hardwerkende en verdienstelike studente, en ons glo dat hulle by die internskapprogram sal baat vind.”

As deel van die beurs moet die studente vir drie weke tydens die Junie/Julie-vakansie ʼn internskapprogram by Select PPE se hoofkantoor in Randfontein voltooi. Hier sal hulle nie net waardevolle praktiese ervaring opdoen nie, maar ook aan die arbeidsmark blootgestel word.

Peet Pieterse, hoof uitvoerende beampte van Select PPE, sê die PPE-span is bevoorreg om studente te kan help om hul ​​horisonne te verbreed. “Deur dié inisiatief bied ons aan uiters talentvolle, innoverende, gemotiveerde en hardwerkende Suid-Afrikaanse studente die finansiële hupstoot te bied om hul akademiese studies te bevorder,” sê hy.

Die graadkursus in beroepshigiëne is relatief nuut by die NWU. Dit kan gedefinieer word as die multidissiplinêre wetenskap wat gaan oor die antisipasie, identifisering, evaluering en beheer van gevare in en om die werksplek wat nadelig vir die gesondheid van die werkers en die gemeenskap is. Die graad het in 2016 sy eerste inname van studente gehad.

 Dié studente het elk ʼn studiebeurs van Select PPE ontvang: Carol-Mari Schulz (vierdejaar), Ipeleng Valerie Modisakeng (vierdejaar), Cindy Werner (derdejaar), Simnikiwe Reve (tweedejaar), Tumelo Thebe Onkaetse (vierdejaar) en Petrus Johannes Botes (vierdejaar).

 

Submitted on Mon, 02/18/2019 - 12:47