Wespe help om metaalkontaminasie te bepaal

Wespe (perdebye) word dikwels as plae beskou, maar hulle kan ’n groot rol in die ekostelsel speel, van bestuiwing totdat hulle ’n skakel in die voedselketting is. ’n Meestersgraadstudent van die Noordwes-Universiteit (NWU), Yasfir Tarif Nadat, onderneem ’n studie om te toon hoe wespe besoedeling kan aandui.

Sy studie is geïnspireer deur ’n referaat waaraan hy en ’n span navorsers van die NWU, die Linköping Universiteit en die Universiteit van Zimbabwe gewerk het. Die span het prof Henrik Kylin, dr Rudo Sithole, Velesia Lesch en die NWU se prof Henk Bouwman ingesluit.

In hulle referaat, getiteld “The wasp as a terrestrial indicator of environmental metal composition: Evidence from Zimbabwe”, het die span metaalkonsentrasies in wespe by vier terreine naby Harare, Zimbabwe ondersoek.

Hulle het gevind dat daar verhoogde konsentrasies by twee terreine is waar daar vermeende besoedeling is – ’n platinummyn en ’n meer wat naby ’n metaalverrykte geologiese terrein, die Great Dyke, geleë is.  

Slegs wespe by die twee skynbaar besoedelde terreine het meetbare metaalvlakke gehad. Wespe van hierdie terreine het beduidend hoër konsentrasies van die meeste metale gehad vergeleke met wespe van die vergelykbare terreine – ’n stedelike terrein in Harare en ’n natuurreservaat – wat aangedui het dat daar besoedeling by eersgenoemde terreine teenwoordig is.

Die geologie by die terreine het egter verskil, dus is dit moontlik dat geologie en besoedeling albei tot die verskille in metaalkonsentrasies bygedra het.

Voëls kan die vermiste skakel wees

Aangesien wespe ’n komplekse deel van die voedselweb en die ekologie is, is studies oor die oordrag van metale na wespe nodig. Sommige voëls spesialiseer daarin om insekte in die orde van vliesvlerkiges te vreet, dus is verdere studie noodsaaklik. In die lig van die diversiteit van wespe, wat wêreldwyd uit meer as 145 000 spesies bestaan en in verskillende trofiese vlakke val, het hulle die potensiaal om by ander ongewerweldes as terrestriële aanwysers aan te sluit.

Yasfir, wat onder die wakende oog van prof Bouwman werk, is besig om die studie uit te brei. Dié 36-jarige, wat met sy meestersgraad in dierkunde besig is, kom oorspronklik van Zimbabwe en sal wespe by verskillende terreine insamel en die verskillende metale in hulle ontleed.

“Ek was nog altyd ’n natuurondersoeker. Daar was dié keer toe ek spinnekoppe gaan soek het en ’n spinnekop op my kop geval het – ek het soos Newton gevoel. Van toe af is ek deur hierdie interessante diere betower,” vertel hy.

Yasfir, wat ’n BSc in dierkunde en ekologie aan die Universiteit van Kaapstad (UK), en ’n honneursgraad in ekologie en bewaringsekologie aan die NWU verwerf het, sê sy liefde vir die sigbare wêreld het hom op sy loopbaanpad gelei.  

Hoewel hy nog altyd in wespe belanggestel het, is sy passie verder aangeblaas ná ’n tweedejaarmodule in entomologie.

“Ek het besef ek kan my passie deel van my loopbaan maak. Ek het alles wat met wespe te doen het, opgeslurp, ook boeke wat daarmee verband hou, en ek het as vrywilliger onder toesig van my held, Simon van Noort, by die Iziko Museum in Kaapstad gewerk. Ek het waardevolle inligting oor die identifisering van wespe geleer, en ook hoe om ’n versameling bymekaar te sit en te versorg,” sê hy.

Yasfir het ook as ’n toegepaste entomoloog by die plantbewaringseenheid by die UK gewerk, en geleer oor piepklein wespe wat vir biobeheer gebruik word.

“Ek het my studies onderbreek om ander dinge na te streef, maar ek het steeds na wespe opgelet en in hulle belanggestel, en my oog op literatuur daaroor gehou. Ek het na die akademie en wespe teruggekeer, en ek was gelukkig om prof Bouwman te ontmoet, wat my gelei het na die pad waar ek nou is.”

Yasfir het aanvanklik gedink dat wespe net vir biobeheer gebruik kan word, maar het toe besef dat daar nuwe, opwindende roetes is wat hy kan volg. Originally Yasfir thought wasps could only be used in biocontrol, but then he realised that there were new, exciting routes he could follow.
 
wasp samples
Voorbeelde van wespe wat Yasfir Nadat vir sy studie versamel het.

Yasfir Nadat
Die NWU-student Yasfir Nadat het ’n studie onderneem oor hoe wespe besoedeling kan aandui.
 

Submitted on Mon, 09/20/2021 - 11:03