WaterNet-span oop vir waterskeidingservarings by die NWU

Vanaf Januarie 2022 sal die sekretariaat van die streekswaternavorsingsnetwerk genaamd WaterNet as deel van ’n vyfjaarooreenkoms by die Mahikengkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) gestasioneer wees.

Ons het met die uitvoerende bestuurshoof van WaterNet, medeprofessor Jean-Marie Kileshye Onema, gesels om ’n beter begrip te kry van hierdie organisasie wat uit 79 lede bestaan – ’n netwerk van Suider-Afrikaanse universiteitsdepartemente, navorsings- en opleidingsinstellings wat in water spesialiseer.

Wat is jou rol as WaterNet se uitvoerende bestuurder?

Van my vernaamste take en verantwoordelikhede is rapportering aan ministers en senior beamptes by die 16 Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapslande (SAOG-lande) oor vordering met die implementering van kapasiteitsonwikkelingsaktiwiteite in die watersektor, en om WaterNet by vennote te verteenwoordig.

Dit geld ten opsigte van WaterNet se kapasiteitsbou-aktiwiteite wat opvoeding, deurlopende professionele ontwikkeling, samewerkende navorsing, uitreiking en kennisbestuur omvat, en waarvoor ek die werksaamhede bestuur. Ek verskaf ook strategiese insette vir die WaterNet-bestuursraad en die bedryfsinstruksies aan die WaterNet-sekretariaat wat die daaglikse WaterNet-sake moet uitvoer.

Wat sal jou navorsingsprioriteite wees as julle in Januarie 2022 met fase 5 begin?

Lede-instellings van WaterNet sal voortgaan om nuwe kennis van navorsingsaktiwiteite te genereer in reaksie op plaaslike, streeks- en wêreldwye behoeftes wat met die SAOG se navorsingsagenda en die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) ooreenstem. Sistematiese benaderings en innovering sal onder die aandag kom namate nuwe navorsingsvoorstelle in fase 5 (2022–2026) ontwikkel en geïmplementeer sal word.

Nagraadse studente op meestersgraad- en doktorale vlak sal regdeur WaterNet se fase 5 voortgaan om by samewerkende navorsing betrokke te wees. Nuwe sinergieë vir groter koördinasie en impak sal met plaaslike en streeksnavorsingsprogramme gevestig word.

Navorsing in fase 5 sal op die grondvlakimpak en betrokkenheid by tersaaklike deelnemers op voetsoolvlak fokus. Die doel is om ’n beter begrip van die werklike behoeftes te kry in ’n poging om meelewende leierskap in navorsing vir ontwikkeling te vind.

Waarna kan die NWU-gemeenskap gedurende jou vyfjaardienstermyn in Suid-Afrika uitsien? Wat sal WaterNet bydra?

Die NWU sal die kennissentrum vir kapasiteitsbou-aktiwiteite vir die SAOG se watersektor wees.  As gevolg daarvan sal die kollig vir die volgende vyf jaar op die nuwe gasheerinstelling val.

Internasionale samewerkingsvenote (ICP’s) wat die kapasiteitsboupogings in die streek ondersteun, sal gelok word na die nuwe basis en kennissentrum wat WaterNet verteenwoordig, en in hierdie proses groter sigbaarheid aan die NWU verleen. NWU se navorsers en nagraadse studente sal die geleentheid kry om by samewerkende en internasionale navorsingsprojekte aan te sluit, met resultate wat baie verder as Suid-Afrika se grense strek.

Jy het onlangs genoem dat daar ’n groot behoefte aan meer vroue in waternavorsing is. Hoe wil WaterNet dit bereik?

Die onderliggende en rigtinggewende beginsels van WaterNet se kapasiteitsbou-aktiwiteite bestaan onder andere uit medeskepping, inklusiwiteit en empatiese leierskap. Hierdie oorwegings gee aandag aan die behoefte om nou saam te werk met daardie stryders aan die voorpunt van die watersektor, en ons weet watter kritieke en noodsaaklike rol vroue in die bestuur van waterhulpbronne speel. WaterNet kan dus nie doeltreffende wateroplossings vir die SAOG-streek verskaf sonder om in die ontwikkeling en implementering van kapasiteitsbou-aktiwiteite erkenning aan die vroue en jongmense te gee nie. Vroue en jongmense sal tydens die volgende fase van WaterNet die ontwerp en implementering van navorsingsprojekte lei.

Op watter manier of maniere kan waternavorsers wat belangstel deel van die groter WaterNet-navorsingsgemeenskap word?

WaterNet is ’n ledegedrewe instelling wat oop is vir nasionale instellings van al 16 SAOG-lande. Navorsings- en opleidingsinstellings wat mekaar wedersyds kan verryk, word uitgenooi om aan hierdie wonderlike inisiatief deel te neem deur aansoeke in te dien wat twee keer per jaar by die algemene jaarvergadering ondersoek en gekeur word.

WaterNet nooi ook burgers en navorsers van die SAOG-lande om vir die ontwikkeling van gesamentlike navorsingsprojekte aansoek te doen. Dit bied ’n verdere geleentheid aan navorsers om deel te wees van baanbrekernavorsingsinisitiewe in die SAOG-watersektor.

Meer oor WaterNet

Die netwerk se doel is om institusionele en menslike kapasiteit in die streek in geïntegreerde waterhulpbronbestuur (IWRM) deur opleiding, opvoeding, navorsing en uitreike te bou deur die komplementêre sterk punte van lede-instellings in die streek en elders te ontgin.

Die WaterNet-konsep is in Mei 1997 geïnisieer deur die SAOG-EU-konferensie, waar ministers van waterwese van Suider-Afrika en Europa beklemtoon het dat daar ’n behoefte is om “die speelveld gelyk te maak” tussen lande wat langs waterbronne geleë is ten einde hierdie doel te bereik.

Marie Kileshye Onema

Jean-Marie Kileshye Onema.

Submitted on Wed, 10/27/2021 - 10:20