Wat ʼn inspirasie!

Dr. Marli Dercksen is onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge met ʼn spesiale Inspirasievrou-toekenning vir haar werk in metaboliese siektes vereer. Kom vind saam meer uit oor dié merkwaardige vrou.

Vertel ons bietjie wanneer jy gebore is en waar jy grootgeword het?

Ek is in 1980 in Vereeniging in die Vaaldriehoek gebore. My laerskoolloopbaan was in Vereeniging en ek het in 1998 aan die Hoërskool Vaalpark in Vaalpark (naby Sasolburg) in die Vrystaat gematrikuleer.

Was jy by die NWU op universiteit en wat het jy studeer?

Voorgraads biologiese wetenskappe aan die PU vir CHO. My honneursgraad en MSc (beide in biochemie) by die NWU. Ek het in Januarie 2009 as PhD-student by die Universiteit van Amsterdam geregistreer. Prof Carools Reinecke van die NWU en prof Ronald Wanders sowel as dr Ries Duran van die Universiteit van Amsterdam was die promotors van my studie. Die studie het vereis dat navorsing by beide universiteite geskied. Ek het in 2014 my tesis suksesvol verdedig: “Isovaleric acidemia: an integrated approach toward predictive laboratory medicine” en my graad van die Universiteit van Amsterdam ontvang. Ek het in daardie tyd steeds diagnostiese take by die NWU verrig.

Waaruit spruit jou liefde vir die mediese wetenskap?

Biologie was vanaf my skooldae ’n vak na aan my hart en ek het toe al geweet dat my beroep in hierdie rigting gaan wees. Ek dink mentors op universiteit (nasionaal en internasionaal), sowel as die snelontwikkelde veld van menslike genetika, het my net meer seker gemaak dat ek ’n kliniese biochemikus in die verwante veld wil word. Wat nog meer bevredigend is, is dat my beroep tweeledig van aard is, naamlik navorsing in menslike genetika, sowel as die toepassing daarvan in die identifikasie van seldsame genetiese siektes.

Wat behels jou werk by die NWU en wat is jou spesialisasieveld?

As hoof- mediese wetenskaplike, is ek verantwoordelik vir die uitvoer en fasilitering van die diagnostiese interpretasie van die resultaat van aangebore metaboliese defekte. Ek is ook deels betrokke by die bestuur van die laboratorium wat interne en eksterne kwaliteitbeheer insluit. Ek gee ook gereeld insette in verskeie navorsingsprojekte en gee ondersteunende opleiding aan nagraadse studente. Ek probeer ook om my navorsinguitsette in die vorm van publikasies en kongresaanbiedings te handhaaf. Ek is as mediese wetenskaplike wat ’n diens in die diagnostiese veld verrig by die RGBSA geregistreer.

’n Bietjie meer inligting oor die werk wat ons doen: Ons werk as mediese wetenskaplikes behels die analisering van monsters van liggaamsvloeistowwe, soos urine en bloed om sodoende ’n profiel van elke pasiënt se metaboliese status te genereer. Die sensitiewe analitiese tegnieke sluit chromatografie en massaspektrometrie in wat ons help om die konsentrasie van elke molekule in die monster te bepaal en dan te evalueer of dit binne normale perke vir ’n sekere ouderdom is. Ons kan dan ons observasies gebruik om vas te stel watter DNS-toetse gedoen moet word.

Wat beteken die FAK-toekenning vir jou?

Dit is voorwaar ’n eer om erkenning te kry vir die werk wat ek, maar ook die laboratorium, verrig. Ek hoop dit is ’n inspirasie vir elke student om hulle drome na te jaag. Dit is ook ’n teken dat wat medici in Suid-Afrika doen wel ’n verskil maak, al voel dit soms of ons net-net kop bo water hou.

Jy het al ’n lys van toekennings agter jou naam. Wat beoog jy om nog in die nabye toekoms te bereik?

Ek wil net voortbou op die pasiëntgedrewe navorsing en sodoende soveel as moontlik mense help om ’n diagnose vir hulle seldsame siekte te kry. Al is ’n enkele seldsame siekte individueel seldsaam, is die totale getal seldsame siektes meer as 7 000, wat dit dan saam meer algemeen maak as wat mens dink. Sommige daarvan is behandelbaar, waar ander slegs met simptomatiese ondersteuning bestuur kan word. Die oorerflikheidsfaktor van seldsame siektes veroorsaak dat dit nie net individuele pasiënte is wat geaffekteer word nie, maar ook die geslagte daarna. Ons navorsing en diagnostiese diens is dus vir vele geslagte van groot waarde.

Wat is jou liefdes/stokperdjies benewens jou akademiese werk?

Ek hou van probleemoplossing. Ek geniet dit om in my vrye tyd blokkiesraaisels in te vul en ook legkaarte te bou.

Enigiets wat jy graag sou wou byvoeg?

Ek weet beslis dat ons as medici ’n groot verskil in mense se lewens maak al is ons werksomstandighede nie altyd maklik nie. Sonder spesialis- mediese dienste in Suid-Afrika sal soveel pasiënte ly en selfs sterf sonder om ’n diagnose te kry. Optimale diagnostiese en behandelingstrategieë kan net met behulp van kennisoordrag  sowel as pasiënt-geïnspireerde navorsing aan jong medici en wetenskaplikes gekommunikeer word. Besoek gerus ons webwerf vir meer inligting: www.pliem.co.za.

....

Dr. Marli Dercksen

Submitted on Wed, 12/09/2020 - 19:10