Verf, besprekings en aanbidding skep ’n geleentheid om te onthou

Sip-and-paint-geleenthede is meer as net ’n byderwetse aktiwiteit – dit is ’n heerlike kombinasie van kreatiwiteit, ontspanning en sosiale interaksie, wat ’n ruimte bied waar mense aan hulle kunstigheid uiting kan gee, ander mense kan ontmoet en kan ontspan.  

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Teologie en die King of Glory Youth Ministries (KGMY) het op 25 Mei ’n sip, paint and worship-geleentheid as deel van hulle gesamentlike jeugkomitee-ontwikkelingsprojek, “Young minds for Christ”, gehou.

Die doel van die projek is om die jeug as verantwoordelike lede van die gemeenskap en samelewing en die toekomstige leiers van môre te bemagtig.

Die geleentheid het 136 entoesiastiese jongmense gelok, almal gretig om by betekenisvolle gesprekke en aktiwiteite betrokke te raak. Die dag het met ’n paneelbespreking begin oor die dwingende kwessies wat jongmense ervaar en strategieë om dit te oorkom.  

Die bespreking het gekyk na lewensvaardighede en gesonde verhoudings wat met geestelike waardes ooreenstem. Onderwerpe het ingesluit dat grense gestel word en verhoudings gekweek word wat vir God aanneemlik is.

Tydens ’n vraag-en-antwoord-sessie het deelnemers die geleentheid gehad om vrae oor hulle persoonlike ervarings en uitdagings aan die paneellede te vra.

Die moderator was Letlhogonolo Letimela van die KGMY-leierskapskomitee en die paneel het uit Neo Phiri, ’n predikant en musikant, Mosa Majola, ook ’n predikant en musikant, drie lede van die Fakulteit Teologie, naamlik Dineo Seleke, prof Vhumani Magazi en dr Hannelie Yates, Zethu Ndaba, ’n lid van die Studente Akademiese Groep (SAG) van Teologie-studente, Gift Mlambo, KGMY-leier, en mnr en mev Koka, ’n jong egpaar bestaan.

Ná die bespreking het die jongmense aan ’n lewenslustige verfsessie deelgeneem, waar almal wit T-hemde gedra het en aangemoedig is om verf op ander te kry en te verhoed dat hulle self geverf word. 

Hierdie vrolike aktiwiteit simboliseer die gedeelde uitdagings wat jongmense ervaar en beklemtoon die belangrikheid van onderlinge ondersteuning, ongeag ras, agtergrond of denominasie. Die sessie het afgesluit met deelnemers wat hande vat en vir mekaar bid, en daardeur eenheid en solidariteit beklemtoon.

Die gebeurtenis het afgesluit met ’n kragtige aanbiddingsessie, wat deur Dineo en dominee Phiri en dominee Majola gelei is. Die KMGY-koor het ook opgetree. Die musiek en lofprysing het ’n verrykende atmosfeer geskep en die tema van geloof en gemeenskap versterk.

Dineo het die sukses van die geleentheid beklemtoon en die Fakulteit Teologie bedank vir hulle betrokkenheid en ’n spesiale woord van dank aan prof Magezi en dr Yates gerig, asook aan die SAG Teologie.

Die geleentheid het ook ondersteuning van borge ontvang, insluitende Amogelang Funeral Services, wie se bydraes die dag onvergeetlik gemaak het en ’n groot impak gehad het. 

Benewens die interessante aktiwiteite en besprekings, het die Fakulteit Teologie ’n groot getal Bybels geskenk om vir behoeftiges wat die geleentheid bygewoon het, uit te deel. Hierdie bedagsame gebaar het die spirituele impak van die geleentheid verder verryk.

’n Groepfoto wat die vreugdevolle wese van die sip-and-paint-geleentheid vasvang.

Paneellede van die verskillende gebiede verskaf uiteenlopende perspektiewe op die onderwerpe wat bespreek is.

’n Oomblik waar die deelnemers in gebed verenig is.

’n Verskeidenheid verfrissende drankies was by die sip-and-paint-geleentheid beskikbaar.

Submitted on Wed, 07/10/2024 - 15:39