Teologie-professor maak vordering met broodnodige diskoers oor kontekstualisering

Prof Alfred Brunsdon van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Teologie het onlangs ’n C2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang. Wat hierdie erkenning noemenswaardig maak, is die nisarea van sy navorsing, wat die teenstrydighede tussen akademiese inhoud en die kulturele kontekste van teologiestudente uit Afrika uitlig.

Hy ondersoek hierdie teenstrydighede reeds die afgelope dekade en fokus veral op praktiese teologie, wat die subdissipline van teologie is wat geloofsgemeenskappe se wyse van kommunikasie krities bestudeer. Dit sluit homiletiek (prediking), liturgie, pastorale sorg en berading in.

Hy het besef dat hierdie vakke deur Westerse epistemologieë gerig word en het begin om weer oor praktiese teologie in ’n Afrika-konteks te besin en om leeruitkomste en navorsing meer te rig op die tipiese kontekste waarin studente uit Afrika as pastors en beraders sou dien.

Twee duidelike trajekte het daarna in sy publikasies na vore gekom: teoretiese aspekte van gekontekstualiseerde praktiese teologie en toepassings in ’n Afrika-konteks. Dit het gelei tot publikasies oor interessante kwessies soos etiese perspektiewe oor rituele manlike besnydenis, gemeentelike pastorale sorg van die slagoffers van brande in plakkershutte, en die dilemma van mense wat ontheem is.

Prof Brunsdon het ook ’n ywerige belangstelling in die vakkundigheid van onderrig en leer ontwikkel. Sy arbeid is in 2018 beloon toe hy die Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid ontvang het. Sedertdien het hy publikasies oor kwessies soos transformatiewe teologiese opvoeding en die toekoms van teologiese onderrig in die Afrika-konteks gehad.

Die professor is tans ’n lid van ’n paneel van gasredakteurs vir ’n spesiale uitgawe van Practical Theology, ’n publikasie van Taylor & Francis, oor praktiese teologie en meerderheid-wêreldse (derdewêreldse) epistemologieë.

Sy toekomstige navorsing sluit ’n meer “glokale” fokus in, wat navorsing behels wat aandag aan die plaaslike sowel as die wêreldkonteks gee. “Daar is ’n toenemende nuuskierigheid van Europese kollegas oor meerderheid-wêreldse epistemologieë. Die tyd is ryp om ’n bydrae tot wêreldwye debatte oor praktiese teologie vanuit ’n Afrika-perspektief te lewer,” sê hy.

Prof Brunsdon is vasbeslote om as ’n maatskaplik responsiewe navorser te groei wat huidige kontekstuele kwessies in ag neem, “aangesien dit die enigste manier is wat klein akademiese belangegroepe soos teologie steeds ’n betekenisvolle impak op ’n groeiende post-Christendom-samelewing kan hê.”

Alfred Brunsdon

Prof Alfred Brunsdon ondersoek reeds vir die afgelope dekade die teenstrydighede tussen akademiese inhoud en kulturele kontekste van teologiestudente uit Afrika.

Submitted on Fri, 10/28/2022 - 09:59