Hulle staan saam as die water-rebelle (water mavericks) bekend: die Noordwes-Universiteit (NWU) se prof Carlos Bezuidenhout en prof Henk Bouwman het ’n magdom ervaring tussen hulle en het reeds groot erkenning vir hulle waterverwante navorsing op hulle onderskeie gebiede ontvang.
Hulle werk is verlede jaar vereer toe hulle die 2021 Waternavorsingskommissie (WNK) Legende-toekenning ontvang het. Hulle tel onder die handjievol Suid-Afrikaners wie se merkwaardige loopbane ’n blywende nalatenskap in die Suid-Afrikaanse watersektor gelaat het en wat deur die kommissie vereer is. Die WNK dien met belangrike bydraes tot die wêreldwye omgewing, die behoeftes van Suid-Afrika ten opsigte van waternavorsing, -ontwikkeling en -innovasie reeds vir meer as 50 jaar.
Prof Bezuidenhout is tans die direkteur van die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur en sy navorsingsbelangstelling lê in akwatiese mikrobiologie, water, sanitasie, gesondheid en energie. Hy het meer as twee dekades lank toegewyd gewerk om mikroörganismes soos bakterieë, swamme en virusse wat in ons waterbronne voorkom en wat potensieel siektes kan veroorsaak, op te spoor. Prof Bezuidenhout het nasionale en internasionale erkenning ontvang as ’n toonaangewende kenner oor antimikrobiese weerstand in varswaterbronne.
Die WNK het een van sy eerste navorsingsprojekte befonds, wat ’n grootskaalse studie van die mikrobiese en fisiese eienskappe van geselekteerde grondwater en oppervlakwaters in Noordwes behels het. “Waterhulpbronne in die provinsie het voor die studie nog nie baie navorsingsaandag ontvang nie, maar dit het verskeie kommerwekkende tendense na vore laat kom. Nitrate is in grondwater en soute in oppervlakwater gevind, maar ontlasting is ook in verskeie hulpbronne aangetref,” sê hy.
Toe hierdie uitmuntende wetenskaplike ontdek het dat ’n vingerafdrukmetodologie vir proteïne vir die neem van genetiese vingerafdrukke gebruik kan word, het sy navorsing gehelp om die ontwikkeling van PKR- (polimerase-kettingreaksie-) DNA-vingerafdrukneming te bevorder.
Prof Bouwman is een van die toonaangewendste ekotoksikoloë in Afrika. Ekotoksikologie is ’n multidissiplinêre gebied wat toksikologie en ekologie integreer. Dit is die studie van die effek van toksiese chemikalieë op biologiese organismes, veral op die vlak van die bevolking, die gemeenskap, die ekostelsel en die biosfeer.
Hy is tans ’n professor in Dierkunde by die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur, met navorsingsbelangstellings in ekotoksikologie wat op verskeie biologiese stelsels – hoofsaaklik erdwurms, visse, mense, voëls en onlangs krokodille, en in voëlekologie – van toepassing is. Hy het dekades lank regdeur sy loopbaan deurlopend organiese besoedelstowwe bestudeer. Dit is hardnekkige organiese besoedelstowwe (persistent organic pollutants, POP’s), wat toksiese chemikalieë is wat jare lank in die omgewing kan oorleef voordat dit afgebreek word.
Prof Bouwman was nou betrokke by die prosesse wat gelei het tot die verbanning of beperking van 23 van die 30 POP’s wat nou deur die Stockholm-konvensie gelys word. Hy het ook in sy hoedanigheid as paneellid vir die Wetenskaplike en Tegniese Advieskomitee (Scientific and Technical Advisory Committee) van die Wêreldomgewingsfasiliteit gehelp om miljoene dollars in buitelandse hulp in verskillende dele van die wêreld toe te ken om die gebruik van besoedelstowwe te probeer verminder. As gevolg daarvan is die gebruik van talle skadelike chemiese stowwe internasionaal uitgefaseer, wat ’n kleiner bedreiging vir mense en die omgewing inhou – vandag en in die toekoms.
Die twee rebelle werk saam
Die twee rebelle het ook saamgewerk aan projekte oor mikroplastiek in die Vaalrivier, wat voorbladnuus in Beeld was. Dit het ’n groot opskudding veroorsaak, wat selfs in die parlement gedraai het. Hulle het ook saam met prof Rialet Pieters MIV- antiretrovirale stowwe in water ondersoek, wat ook ’n parlementêre verslag tot gevolg gehad het.
Prof Carlos Bezuidenhout
Prof Henk Bouwman