Studie wys hoe kinders by fisieke aktiwiteit in die klaskamer baat

ʼn Kind se brein en liggaam baat by fisieke aktiwiteite. Dit is weer eens getoon deur ʼn Brain Breaks®-studie wat in agt lande gedoen is en waaraan die Noordwes-Universiteit (NWU) deelgeneem het.

Prof Dané Coetzee by die Skool vir Menslike Bewegingskunde het die projek van die NWU se kant af gelei.

Die gesamentlike navorsing is in ’n artikel in die International Journal of Environmental Research and Public Health onder die titel “Brain Breaks® Physical Activity Solutions in the Classroom and on Attitudes toward Physical Activity: A Randomised Controlled Trial among Primary School Students from Eight Countries” gepubliseer.

In die studie is leerders in die ouderdomsgroep agt tot 11 jaar van skole in Kroasië, Litoue, Masedonië, Pole, Roemenië, Serwië, Suid-Afrika en Turkye ewekansig aan ’n gekontroleerde of ’n eksperimentele groep toegewys. Die eksperimentele groep het oor ʼn tydperk van vier maande videos met fisieke aktiwiteite van Brain Books® tydens klaskamersessies ontvang.

Leerders in die eksperimentele groep het tydens die skooldag in die klaskamer aan ʼn reeks van drie tot vyf minute lange videos met groepaktiwiteite deelgeneem.

Die studie het bevind dat leerders se blootstelling en deelname aan Brain Break®-aktiwiteite gedurende hierdie viermaandetydperk heelwat voordele teweeg gebring het.

Dit is onder meer ’n verbeterde ingesteldheid teenoor fisieke aktiwiteit, die verwagte voordele van wat fisieke aktiwiteite tot gevolg het, verbeterde persepsies van die belangrikheid van fisieke aktiwiteit, hulle leer is bevorder, en so ook hulle doeltreffendheid in die gebruik van die oefeningvideo’s. Leerders se belangstelling in die doen van fisieke aktiwiteit is verhoog, en hulle oriëntering ten opsigte van die beste persoonlike doelwitte wanneer hulle aan fisieke aktiwiteite deelneem, het verbeter.

“Hierdie studie het weer eens getoon waarom ouers en onderwysers op ’n daaglikse basis in fisieke aktiwiteite vir kinders moet belê. Die positiewe resultate is talryk en van die uiterste belang vir ’n kind se fisieke en geestelike welstand,” sê prof Coetzee.

Dr Dané Coetzee
Prof Dané Coetzee

Submitted on Fri, 01/29/2021 - 08:57