Steratleet Chederick praat uit Tokio  

Een van die Noordwes-Universiteit (NWU) se gunstelingseuns, Chederick van Wyk, bevind hom tans saam met ʼn uitgelese groep Suid-Afrikaners wat die land se vlag tydens die Olimpiese Spele in Tokio, Japan gaan swaai.

Chederick, wat aan die 4 X 100 m-aflos gaan deelneem, het ʼn tydjie ná aandete afgeknyp om sy wedervaringe in Tokio tot dusver te deel.

“Die inperkingreëls word baie ernstig opgeneem. Veral in die lughawens het ure lange prosedures gevolg, toetse is gedoen en daar is toeps (apps) op ons fone afgelaai om ons te monitor,” vertel Chederick.

“By die Olimpiese dorpie self is ons temperature ook gemeet. Ons temperature word daagliks geneem, waarna ons dit op die toep inlees. By die eetsale probeer die organiseerders ook soveel as moontlik om sosiale afstandreëls te handhaaf, soos die skeidings wat by die eettafels toegepas word.

“Oor die algemeen is dit vir my ʼn ongelooflike voorreg om hier te wees. Dit is net wow! Al die sportsoorte van regoor die wêreld wat hier is ... dit is my eerste Spele, dus wil ek alles sien en orals wees. Ek wil net soveel foto’s as moontlik neem en herinneringe bou. Wat vir my uitstaan, is die organisasie en hoe die hele wêreld bymekaarkom ter wille van sport.”

Vir ondersteuners gaan Akini Simbini se vertonings in die 100 m gewis ʼn hoogtepunt wees, en spanmaat Chederick stem saam: “Ek sien uit daarna om te sien wat Akani vir ons kan doen. Ek was bevoorreg genoeg om die afgelope twee weke saam met hom rond te beweeg en saam vir die aflos te oefen. Ek sien uit na sy 100 m, en dan ook natuurlik na ons 4 X 100 m.” 

Chederick van Wyk en die Suid-Afrikaanse aflosspan sal vir die eerste keer op 5 Augustus in aksie wees. 

........

Chederick van Wyk

Submitted on Fri, 07/23/2021 - 14:22