Ruim skenking van PPS gee stylvolle nuwe voorkoms

Die boonste vloer van die G23-gebou op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) huisves die vakgroep Farmakologie in die Skool vir Farmasie, en ’n navorsingspan van die Pharmacen sentrum van uitnemendheid.

Danksy ’n ruim skenking van die Professional Provident Society (PPS), is die ingang na hierdie vloer opgeknap met tegnologie en kuns wat die neuropsigofarmakologiese fokus van kundigheid van die Farmakologie-vakgroep komplementeer en vier. Wetenskaplike bydraes en publikasies van die personeel en die uitstekende groep energieke nagraadse studente word ook gevier. Die oorhandiging het op 7 November 2023 tydens ’n spesiale funksie plaasgevind.

Verteenwoordigers van PPS en personeel van die vakgroep en die Departement van Ontwikkeling en Fondsinsameling van die NWU het onder andere die geleentheid bygewoon.
Die ontvangsarea van Farmakologie is nou toegerus met ’n vertoonskerm en ’n kamerauitsending vir die lokaal, wat die vakgroep se publikasies en prestasies, asook verskeie stukke grafiese muurkuns vertoon. Die kuns kyk na die brein en neurone as tema en is geïnstalleer om die vakgroep se uitnemendheid as een van die oudste en vernaamste gedragsneurowetenskaplike navorsingsgroepe uit te beeld.

Die nagraadse laboratorium is ook opgeknap.

Dr Stephan Steyn, senior lektor in die vakgroep, het die verwelkomingstoespraak gelewer en die betekenisvolheid van die onderneming beklemtoon.

“PPS belê in die toekoms van jong vakkundiges, en hierdie verbeterings sal tot voordeel van die voorgraadse en nagraadse studente wees. Noudat hierdie skilderye teen die vakgroep se mure uitgestal word, het ons die entoesiasme en motivering om aan te hou doen wat ons geniet, en nuwe hoogtes te bereik.” 

Prof Jan Steenekamp, pasaangestelde direkteur van die Skool vir Farmasie vanaf Januarie 2024, het sy dankbaarheid teenoor PPS vir hierdie inisiatief uitgespreek.

“Ons waardeer PPS se toewyding en sien daarna uit om ons verhouding met hulle te versterk en ons samewerking uit te bou.”

Dit is lofwaardig dat NWU-belanghebbers die inisiatief neem en met ons saamwerk om die toekoms van jong vakkundiges te ontwikkel.

Om ’n aangename en esteties pragtige omgewing te skep, is meer as bloot iets lekkers om te hê wanneer dit werklik ’n professionele atmosfeer waarin ons kan werk, inspireer en skep.

Meer oor PPS

PPS is ’n onderlinge finansiële dienstemaatskappy in Suid-Afrika wat pasklaar versekering, beleggings en gesondheidsorgoplossings verskaf uitsluitlik vir gegradueerde vakkundiges wat kwalifikasies gelyk aan ’n honneursgraad of hoër van ’n openbare instelling of sekere gelyste privaat instellings het.

Hulle help hulle lede om hulle huidige en toekomstige finansiële posisie te verseker deur ’n gerustheid tydens hulle professionele loopbane en tydens hulle aftreejare te verskaf.

Agter van links is prof Jan Steenekamp, Kirsten Dreyer, Kosie Dreyer (albei onafhanklike finansiële adviseurs), Leonard Haasbroek (PPS-streeksbeampte), en Pierre Coetzee (PPS-bestuurder vir die afdeling vir gegradueerdes). Voor is prof Linda Brandt en Marletta Augustyn (PPS-streeksbeampte).

Teenwoordiges by die spesiale gebeurtenis neem ’n toer deur die opgeknapte derde vloer van die Farmasiegebou, G23.

’n Skildery van ’n enkele neuron aan die einde van die gang.

Die opgeknapte nagraadse laboratorium.

’n Illustrasie wat ’n padda se brein uitbeeld.

Submitted on Thu, 11/16/2023 - 09:12