Ronel Emms: “Daar kan boeke oor haar geskryf word.”

Sy is die onbetwiste moederfiguur van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Rugbyinstituut. Sy is een van die helde agter die skerms. Sy is die vriendelike gesig wat jou eerste groet. Sy is Ronel Emms, en sy het net soveel aandeel aan die Rugbyinstituut se bultende trofeëkas as al dáái drieë wat goud ingesamel het.

As sekretaresse van die Rugbyinstituut en die assistent van die hoof, Mervyn Taylor, is sy in die DNA van die Fanie du Toit-sportterrein verweef.

Vanaf die beginjare by die instituut, waar die eerste afrigters soos Jacques Swanepoel (“Hy was ʼn bok vir sport!”) tot die gesiene Matt Proudfoot (“Hy het baie ambisie gehad, hy het geweet wat hy wil hê.”) die grondslag vir ongekende sukses gelê het, was sy daar. En vir meer as ʼn dekade en ʼn half is sy reeds Mervyn se regterhand.

“Ons respekteer mekaar se sienswyses. Hy is ʼn goeie mens om voor te werk. Ons ondersteun mekaar. Hy het ʼn sagte hart, al lyk dit of hy kwaai kan wees,” sê sy met ʼn lag.

En sy?

“Ek probeer altyd om ʼn gelykmatige mens te wees, om altyd dieselfde te wees. My uitgangspunt in die lewe is Galasiërs 5:22, wat handel oor die vrug van die Gees. Dit is vir my baie belangrik.”

Op Maandag 6 Maart het die NWU Eagles in hulle Varsitybeker-stryd op die Fanie teen Tukkies uitgedraf. Van die trui van Riaan Genis wat sy troepe op die veld gelei het, tot trui nommer 23 is almal deur Ronel aan die spelers oorhandig.

Dit was lekker.

“Ai, dit was ʼn absolute voorreg en eer om dit te kon doen. My hart het bolmakiesie geslaan van trots toe ek vir elkeen sy trui kon oorhandig.” ʼn Blyk van respek en waardering vir wat sy vir die instituut beteken. Die NWU se Varsitybeker-afrigter, Burger van der Westhuizen, sê-vra mos nou die dag: “Ronel? Daar kan boeke oor haar geskryf word.”

Baie lekker. Steeds lekker.

“Ek geniet dit vreeslik om op te staan en werk toe te gaan.” Nietemin: “Die manne se admin is nie altyd wat dit moet wees nie,” bieg sy speels met ʼn vonkel in haar oog. En: Nee, sê sy, die studente gee haar nie grys hare nie. “Mervyn laat dit nie toe nie!”

Hoogtepunte was daar vele: “Al die intervarsities wat ons gewen het. Dit was vir Dok Theuns (Eloff) altyd ʼn groot ding. Ons moet vir Kovsies wen.” Sy beklemtoon daardie “moet” met getuite lippe en ʼn voorkop wat met ʼn skielike frons die erns van die saak beklemtoon.

Op 11 April 2016 kry sy amper ’n toeval by die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Onthou, dit was toe die NWU vir Maties in ʼn naelbytstryd om die Varsitybeker-kroon geklop het.

“Ek was uit my vel uit. Ek het aangehou en aangehou skree. Ek het op en af gespring.” Dan, weereens: “Ek was uit my vel uit.”

Daar is al spottenderwys vir haar gesê dat sy, soos in die gelyknamige sepie, met rugby getroud is. Dit is so halfpad waar. “Rugby is ʼn baie groot deel van my lewe.” Eerstens is sy ʼn familiemens. ʼn Ma en ʼn ouma. Wederhelf vir haar ware liefde: “My man, Cooper, is regtig my steunpilaar en ʼn wonderlike mens.”

Soort soek soort, want Galasiërs 5:22–23 lui: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”

Diegene wat Ronel Emms van Potchefstroom ken, weet dit is nie net 25 woorde wat sy al menigmaal gelees het nie. Dit is sy.

....

ʼn Trotse oomblik, en ʼn welverdiende een.

Submitted on Mon, 03/13/2023 - 11:04