Professor sit NWU-tradisie op gewilde radioprogram voort

’n Trotse tradisie om standpunt in te neem om die omgewing te beskerm, is springlewendig.

Die kundiges van die Noordwes-Universiteit (NWU) was jare lank deel van die baie gewilde weeklikse insetsel Omgewingspraatjies op die radioprogram Brêkfis met Derrich op Radio Sonder Grense (RSG) op Saterdagoggende. Prof Rialet Pieters, professor in Dierkunde by die Skool vir Biologiese Wetenskappe, sit hierdie tradisie op RSG voort as die NWU se nuwe stem op Omgewingspraatjies.

Rialet volg in die voetspore van haar NWU-kollegas prof Kobus van der Walt, prof Juaneé Cilliers en dr Ruhann Steyn. Sy het by Ruhann oorgeneem en haar eerste uitsending as aanbieder van Omgewingspraatjies is op 27 Augustus uitgesaai.

Sy is opgewonde oor die voortsetting van die werk van haar NWU-kollegas. “Ek was nog altyd op een of ander manier agter die skerms by die program betrokke en het bydraes oor onderwerpe gemaak of idees met die vorige aanbieders gedeel. Ek is ook ’n getroue RSG-luisteraar wat veral programme oor die omgewing waardeer.”

Vir Rialet is dit ’n voorreg om die leiding by Omgewingspraatjies oor te neem. “Die luisteraars is kundig en entoesiasties en dit maak vele geleenthede vir betrokkenheid moontlik. Die program het deur die jare heen bewys dat dit ’n buitengewone platform vir die publiek en omgewingsentoesiaste is om oor lewensbelangrike omgewingsaangeleenthede te gesels.”

Sy deel haar kundigheid oor ekostelsels

Rialet is ’n toegewyde navorser en ekologiese toksikoloog wat op organiese chemiese besoedelstowwe en hulle uitwerking op ekostelsels (biota) fokus, en haar eerste uitsending was oor haar navorsingsprojek oor die gebruik van biologiese toetsing vir die verbetering van watergehalte. Dit behels die gebruik van ’n organisme of selle in ’n petribakkie om te toets of water drinkbaar of veilig vir gebruik is. Indien die organisme of sel in die water oorleef, is dit gewoonlik ’n goeie aanduiding dat die water veilig is, wat makliker is as om vir verskillende spesifieke besoedelstowwe te toets om vas te stel of die water bruikbaar is.

As daar een voetspoor is wat sy graag op Omgewingspraatjies wil agterlaat, is dit om meer met die luisteraars te deel oor die impak wat mense op die omgewing het.

“Ek dink Suid-Afrika is baie agter wat betref wat die gemiddelde persoon weet oor die omvang van die skade wat mense aan die omgewing doen. Ons kan sien wanneer diere of visse in besoedelde water vrek, maar niemand weet wanneer ’n bevolking insekte wat agter ’n rots leef, uitgewis word nie. Mense is nie bewus daarvan nie, bloot omdat hulle dit nie kan sien nie. Ons moet meer bewus raak van die uitwerking wat ons gedrag op die omgewing het en meer volhoubaar leef.”

Tree in die bres vir die omgewing

Rialet neem haar missie om op te voed baie ernstig op. “Oom Doep, die vader van ’n goeie vriend van my, het een keer vir ons gesê dat die werk wat ons in ons navorsingseenheid (Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur) doen, baie belangrik is omdat ons ’n stem gee aan die omgewing, wat nie vir homself kan praat nie.”

Dit is hierdie benadering wat Rialet hoop om na Omgewingspraatjies te bring – om die stem vir die stemloses te wees wat die beskerming van die omgewing betref.

Om Omgewingspraatjies se Facebook-bladsy te besoek, klik op: https://www.facebook.com/omgewingspraatjies.  

Om vir Rialet te sien praat oor haar werk op Omgewingspraatjies, besoek https://youtu.be/qxJmmuu81sk (Afrikaans), of https://youtu.be/YS1KHIg_DOE (Engels).

....

Prof Rialet Pieters is ook ’n alumnus van die NWU. Sy het in 1996 as dosent in Dierkunde begin werk en is sedertdien ’n entoesiastiese navorser en mentor. Vyf studente het reeds onder haar leiding hulle doktorale studies voltooi, en 14 hulle meestersgrade. Dit sluit nie haar huidige studente in wat tans besig is om hulle grade te voltooi nie.

....

Prof Rialet Pieters agter die mikrofoon in haar kantoor vanwaar sy die insetsels van Omgewingspraatjies met behulp van Cleanfeed-sagteware uitsaai.

....

....

....

Prof Rialet Pieters se voorgangers op Omgewingspraatjies is prof Kobus van der Walt, prof Juaneé Cilliers en dr Ruhann Steyn.

Submitted on Mon, 09/12/2022 - 09:28