Professor Marius Smit op pad na nuwe horisonne

Professor Marius Smit van die Fakulteit Opvoedkunde het op 17 Augustus sy intreelesing, getiteld The symphony of seeds and harvest – harmonising the law, policy, and interventions to cultivate quality education, gelewer.

Prof Smit het in sy lesing gesê dat die harmonisering en behoorlike robuuste toepassing van die wet, goeie beleide en intervensies ’n onderwysstelsel kan daarstel wat die gehalte van onderwys in die land sal verbeter.

Hy het dit geïllustreer deur die volgende punte te beklemtoon:

· Die agtergrond van die uitwerking van die reg, beleide en intervensies op die onderwysstelsel

· Komponente van gehalte-onderwys

· Redes vir die swak toestand van onderwys in Suid-Afrika

· Aanbevelings vir die verbetering van onderwys in Suid-Afrika

Prof Smit het gesê dat onderwys as ’n diens beskou moet word, en universiteite moet sorg dat hulle studentonderwysers behoorlik voorberei word deur die beste pedagogiese benaderings te volg.

Volgens prof Smit se navorsingsbevindings het die onderwysvakbond, SADTU, gedurende die vorige twee dekades deur sy optrede en beleide die vooruitgang van die onderwysstelsel in die wiele gery.

Hy het ook gesê dat ons land se onderwysstelsel as gevolg van ontoereikende skoolleierskap stagnant geraak het en dat daar min ontwikkeling was. Hy het voorts gesê dat in talle disfunksionele skole onderwysers nie behoorlik onderrig gee nie en dat daardie onderwysers aanspreeklik gehou moet word.

Hy het gedemonstreer dat die gehalte van die onderwysstelsel verbeter kan word deur onderwys met behulp van goeie geriewe en gekwalifiseerde onderwysers toeganklik te maak deur finansiële en taalkundige struikelblokke te verwyder, dit aanpasbaar te maak deur by ’n nuwe kurrikulum aan te pas, en aanvaarbaar te maak deur die gehalte van onderwysers te verbeter.

Prof Smit glo dat ’n sterk inspektoraatstelsel weer ingestel moet word om toesig oor die prestasie van onderwysers te hou en die gehalte van onderwys in ons land te verbeter.

Prof Erika Serfontein, waarnemende skooldirekteur van die Skool vir Professionele Studies in Onderwys (SPSO), het gesê: “Ons is baie bly om vanaand hierdie geleentheid aan te bied om prof Marius Smit se vordering tot volle professorskap te erken. Dit verg harde werk en vasberadenheid om te voldoen aan die streng vereistes wat vir so ’n bevordering gestel word. Baie geluk met hierdie sukses.”

Prof Lloyd Conley, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, het die eer gehad om amptelik vir prof Smit sy akademiese toga om te hang en sy biografie te lees.

Prof Izak Oosthuizen, afgetrede professor in Onderwysreg, het prof Smit met sy uitstekende navorsingsaanbieding gekomplimenteer. Hy het voorts daarop gewys dat prof Smit ’n hele klomp idees vir vakkundige besprekings na vore gebring het.

Professor Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir kampusbedrywighede op die Potchefstroomkampus, het aan prof Smit ’n sertifikaat oorhandig en hom gelukgewens.

“Ons bedank jou dat jy ons bewus gemaak het van hierdie uitdagings en die revolusionêre situasie wat in ons land bestaan. Ons vier hierdie intreelesing saam met jou en eer jou bydrae as ’n getuienis dat universiteite ’n rol in die transformasie van ons onderwyslandskap kan en moet speel. Baie geluk aan jou, prof Marius, met hierdie mylpaal op jou lewensreis. Ons sien uit na innoverende idees, navorsing en groter bydraes tot die Fakulteit Opvoedkunde en die Noordwes-Universiteit,” het prof Balia gesê.

Mnr Reuben Smit, prof Smit se seun, het sy bewondering vir sy pa uitgespreek en almal bedank wat teenwoordig was.

....

Professor Marius Smit

Submitted on Thu, 08/31/2023 - 11:01