Prof Aubrey Golightly het tydens sy intreelesing die invloed van probleemgebaseerde leer (PGL) op studente se selfgerigteleervaardighede (SGL-vaardighede) bespreek, en na PGL gekyk as ’n manier om SGL in Geografie-onderwys te bevorder. SGL is ’n proses waartydens individue eienaarskap van hulle eie leer neem. Hulle identifiseer hulle eie leerbehoeftes, leerdoelwitte en hulpbronne wat vir leer nodig is, kies geskikte leerstrategieë, en evalueer leeruitkomste vir hulleself. Aan die ander kant verwys PGL na leer wat plaasvind tydens die proses wanneer daar gewerk word om ’n gemelde probleem te verstaan of om oplossings daarvoor te verskaf. Dit is ’n studentgebaseerde benadering, waar die probleem die eerste keer teëgekom word. Die probleem dien as ’n fokuspunt, en ontlok die toepassing van probleemoplossings- of redenasievaardighede en die soeke na kennis en inligting wat nodig is om die probleem en die potensiële oplossings daarvoor te verstaan. Literatuur toon dat PGL toenemend gewild word in hoër onderwys, aangesien dit studente se leer en 21ste-eeuse vaardighede bevorder. Die opleiding van onderwysers word egter baie min deur PGL geraak en daar is beperkte navorsing oor PGL in die opleiding van onderwysers beskikbaar.
Prof Golightly het spesifiek na die vak Geografie gekyk en beklemtoon dat fundamentele probleme kan voorkom wanneer daar van Geografie-onderwysers verwag word om ’n leerdergesentreerde benadering in onderwys binne die sosiaal-konstruktivistiese paradigma te volg sonder dat hulle opgelei en behoorlik voorberei is om dit te doen.50 Dit is nodig om te verstaan dat PGL daarop gemik is om studente aan te moedig om verantwoordelikheid vir hulle eie leer te neem. PGL fasiliteer meer as bloot die verkryging en organisering van kennis. Dit ontwikkel 21ste-eeuse vaardighede soos probleemoplossing, kritiese denke, SGL, kommunikasie, samewerking, die deel van inligting, ’n bewustheid van persoonlike sterk punte en swakhede, ens. Die sukses van PGL het tot wydverspreide toepassing van die onderrig- en leerstrategie regoor verskeie gebiede gelei. Potensiële Geografie-onderwysers word dikwels tydens hulle formatiewe skooljare slegs aan die tradisionele behavioristiese onderrigbenadering blootgestel. As gevolg hiervan is hulle persepsies van die aard van onderrig en leer nie noodwendig in ooreenstemming met die wese van die paradigma van sosiale konstruktivisme nie. PGL word beskou as ’n toonbeeld van ’n konstruktivistiese benadering, aangesien dit die leerder in die middelpunt van die leerproses plaas en die fokus in die klaskamer van onderrig na leer verplaas.
Die selfgerigte benadering van PGL dui daarop dat onderwysers meer van ’n leidende, fasiliterende, samewerkende rol in die student se leer speel, in teenstelling daarmee dat hulle ’n oordraer van inligting en kennis sal wees. SGL word dikwels as ’n kritieke komponent van PGL beskou. Dit kan ’n voordelige leeruitkoms van PGL, en terselfdertyd ’n spesifieke leerdoelwit wees. Op sy beurt kan verskeie eienskappe van PGL SGL bevorder, soos die studentgesentreerdheid van PGL, studente se begin met probleemoplossing voordat hulle ander kurrikuluminsette ontvang het, studente se bewustheid van gapings in hulle eie kennis, die generering van hulle eie leerkwessies, studente se selfgerigte navorsing en individuele studie, die kritiese evaluering van hulpbronne, die toepassing van nuwe kennis in die proses van probleemoplossing, en kritiese en samewerkende nadenke oor hulle eie SGL-vaardighede. Navorsing stem saam dat SGL ontwikkel word wanneer PGL as ’n onderrig- en leerstrategie geïmplementeer word. As die studentgesentreerdheid van PGL oorweeg word, raak studente gewoonlik by die probleem betrokke en neem eienaarskap van hulle eie leer.
Prof Golightly het al die BEd Geografie-modules (eerste tot derde jaar) aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) gekies om die belangrikheid te demonstreer om onderwysers te wys hoe PGL gedurende ’n akademiese jaar in verskeie Geografie-modules geïmplementeer kan word. Fasiliteerders het Geografie-probleme ontwikkel wat met een module-uitkoms vir elke module belyn is. Studente het vir drie weke per Geografie-module twaalf PGL- tutoriale sessies van aangesig tot aangesig bygewoon om oplossings vir hierdie probleme voor te lê. Vierdejaar- BEd Geografie-studente het in hierdie sessies as tutors opgetree, nadat hulle in PGL-tutoriale opleiding in die rol van tutors ontvang het. Hy het bevind dat studente se persepsies van hulle selfgerigtheid in leer oor ’n driejaartydperk deur die doeltreffende implementering van PGL in Geografie-onderwys beïnvloed kan word. Vir optimale resultate moet PGL met gereelde tussenposes in die Geografie-modules in verskillende akademiese jare geïmplementeer word. Geografie-onderwysers tree as fasiliteerders in die PGL-proses op en speel ’n deurslaggewende rol in die leiding aan studente om geografieprobleme in die werklike wêreld op te los. ’n Noodsaaklike faktor om geslaagde PGL-ervarings te verseker, is dus die opleiding van Geografie-fasiliteerders, tutors en studente om hulle nuwe rolle in PGL-omgewings te vervul. Dit is ook nodig om assesseringsrubrieke aan Geografie-studente te verskaf om hulle te help om die probleem op te los en die PGL-uitkomste te evalueer.
Prof Golightly is tans by ’n Geografie-onderwysprojek betrokke waar hy die verwantskap tussen Geografie-onderwysers se vlak van SGL, hulle betrokkenheid by aktiwiteite in selfgerigte professionele ontwikkeling en die implementering van aktiewe onderrig-leer-strategieë in die Geografie-skoolleerplan wil ondersoek. Hy sal op die implementering van PGL in die Geografie-skoolleerplan en in die beplanning van betekenisvolle Geografie-probleme met PGL fokus. Sy navorsing sal waardevolle lig op die noodsaaklike rol en verantwoordelikheid van onderwysers in die onderrig-leer-ervaring laat val.