Paulo par excellence

Daar was Woensdagaand 4 Oktober baie min wenkbroue gelig toe Vernon Paulo, die NWU se uithalerhaker, as die NWU Rugbyinstituut se Speler van die Jaar aangewys is.

Paulo is met die Johan Claassen-trofee vir sy uithalerspel in die Varsitybeker beloon en was deurgaans uitsonderlik. Nie net het hy die meeste drieë in die kompetisie gedruk nie – voorwaar ʼn rariteit vir ʼn vaste voorspeler – maar sy werksetiek en leierskap was ook van die vernaamste eienskappe deur die loop van die kompetisie.

Tino Swanepoel is as die Varsitybeker se Speler van die Jaar aangewys en ondersteuners sal nog vir lank dié kookwater- veelsydige speler se pragdrieë gedurende kompetisie onthou. Sy twee drieë in die eindstryd teen Ikeys was uiteindelik deurslaggewend vir die seevierende NWU Eagles.

Isrome Phatudi is met die Piet Malan-trofee as Agterspeler van die Jaar beloon, en Sampie Swiegers het die Voorsitterstrofee as Voorspeler van die Jaar ingepalm.

Die Direkteurstrofee vir die speler wat die meeste vordering gemaak het, is aan Zinedine Robinson oorhandig en Theuns Pretorius is as die Dux Speler van die Jaar aangewys. Hierdie trofee word aan die speler oorhandig wat op die rugbyveld sowel as op akademiese vlak presteer.

Dit was ʼn voortreflike jaar vir die Rugbyinstituut, met die Varsitybekerspan wat die gelyknamige kompetisie gewen het, die Young Guns wat hulle kompetisie gewen het, en ook beide die 7’s se mans- en vrouespan wat hulle onderskeie USSA-toernooie gewen het.

....

Prof Daryl Balia, Potchefstroomkampus: Adjunk-visekanselier saam met Vernon Paulo.

Submitted on Wed, 10/11/2023 - 11:27