Pasop vir besmette vleis wat op straat verkoop word

Die groot verskeidenheid bakteriële spesies wat aangetref word in voorbereide vleis wat op Johannesburg se strate verkoop word, is ’n aanduiding dat verbruikers van hierdie vleis gevaar loop om voedselvergiftiging op te doen.

Dit is volgens die bevindings van ’n meestersgraadstudie wat deur dr Mpinda Edoaurd Tshipamba van die Noordwes-Universiteit (NWU) se vakgroep Dieregesondheid uitgevoer is.

Die titel van sy studie was “Evaluation of the effect of hygiene practices and attitudes on the microbial quality of street vended meats sold in Johannesburg, South Africa”.

Dr Tshipamba sê 115 monsters van die vleis wat op straat verkoop word, is ondersoek vir die voorkoms van bakteriële patogene en hulle weerstandigheidsprofiele teen antibiotika wat gewoonlik gebruik word.

“Vyftien spesies bakterieë is in die monsters aangetref,” sê hy. Staphylococcus aureus het die meeste voorgekom, en 53,33% van die isolate het multimiddelweerstandigheid getoon teen die antibiotika wat getoets is.

Onder die geïsoleerde bakterieë was S. Aureus weerstandig teen ten minste ses antimikrobiese agense, terwyl 100% van die S. Enterococcus faecalis en Planomicrobium glaciei teen onderskeidelik streptomisien, siprofloksasien en chlooramfenikol weerstandig was,” sê dr Tshipamba, wat molekulêre bepalers om die bakterieë te identifiseer en te tipeer, en skyfdiffusiemetodes vir die antimikrobiese vatbaarheidstoets gebruik het.

Die groot verskeidenheid bakteriële spesies wat aangetref word in voorbereide vleis wat op straat verkoop word, dui aan dat verbruikers van hierdie vleis gevaar loop om voedselvergiftiging op te doen.

“Streng intervensiestrategieë moet dus deur regeringsagentskappe daargestel word om die gevaar van voedselvergiftiging in die land te verminder,” sê dr Tshipamba.

Die eet van voedsel wat met mikrobiese bevolkings besmet is, bly ’n vername roete vir voedselgedraagde infeksie in ontwikkelende lande, en skep ’n ernstige openbare gesondheidslas.

Dr Tshipamba

Dr Mpinda Edoaurd Tshipamba, NWU-meestersgraadstudent in die vakgroep Dieregesondheid, het die gesondheidsrisiko’s ondersoek wat verband hou met vleis wat op straat verkoop word.

Submitted on Tue, 08/10/2021 - 12:58