Ondersoek inheemse pedagogieë in die tog om Suid-Afrika se Eurosentriese kurrikulum te verander

Universiteitskurrikulums moet by ongemaklike gesprekke betrokke raak om hedendaagse uitdagings aan te pak, en in die afgelope paar jaar was daar ’n toenemende beweging na die dekolonisering van die onderwyskurrikulum in Suid-Afrika. Die vraag van “watter kennis het die grootste waarde”, of “wie se kennis het die meeste waarde” is die kern van hierdie debat.

“Hierdie ingewikkelde gesprekke oor die dekolonisering van die kurrikulum het alternatiewe moontlikhede oopgemaak om die diepgewortelde epistemiese ongeregtighede te verstaan wat steeds regdeur die kurrikulum bestaan,” sê prof Shan Simmonds, subarealeier in die navorsingseenheid Onderwys en Menseregte in Diversiteit in die Skool vir Opvoedkundestudies van die Noordwes-Universiteit (NWU).

Haar fokus het begin om te kyk na wat ’n Kanadese opvoedkundige, Bob Jickling, as “inheemse pedagogie” (wild pedagogy) beskou, en waarom hierdie konsep ’n noodsaaklike aspek van onderwys in hierdie tye is. Die konsep dui daarop dat indien onderwys en die kurrikulum verinheems en as inheemse onderwys hervestig moet word, hulle alternatiewe benaderings tot die mens se bestaan, en dus tot die implementering van opvoeding, moet aanwend.  

Om die kurrikulum te verinheems en as inheemse onderwys te hervestig, beteken om tradisionele onderwysbenaderings, waarvan die fokus swaar op gestandaardiseerde toetsing, papegaaileer en rigiede strukture staatmaak, uit te daag en te transformeer. Dit behels dat ’n meer holistiese, studentgesentreerde en ervaringsleerpraktyk aanvaar moet word wat nuuskierigheid, kritiese denke, kreatiwiteit en die praktiese aanwending van kennis voorstaan.

Prof Simmonds het daarom in September 2023, as deel van ’n mobiliteitstoekenning en as deel van haar navorsing, aan die Vrije University, Amsterdam aan ’n onderrigkursus deelgeneem wat inheemse pedagogie bevorder. In plaas van ’n konvensionele klaskameropset, het studente hulle kursus/onderrig op ’n plaas in die Amsterdamse woud in Nederland ontvang, en deur en saam met die natuur geleer.

“Ons het hierdie vorm van leer aangegryp en het ook Beitske Bouwman as een van die aanbieders beleef. Beitske het die Anaya Academy (https://www.anaya.nl/) in 2019 gestig, wat op die konneksie tussen mense en die natuur en omgekeerd fokus,” sê prof Simmonds.

Volgens prof Simmonds is die doel van hierdie benadering tot onderwys om neoliberale onderwysstrukture uit te daag wat op die belangrikheid van metings- en assesseringsprestasies fokus. 

“Hierdie benadering is belangrik, aangesien die tradisionele kurrikulum geneig is om studente se natuurlike nuuskierigheid en liefde vir leer te onderdruk. Dit laat dikwels na om na die uiteenlopende behoeftes en belange van studente om te sien en beperk hulle persoonlike groei en sukses. Deur die kurrikulum te verinheems en inheemse onderwys te hervestig, kan onderwysers ’n inklusiewe en betrokke leeromgewing skep wat ’n dieper begrip, outonomie en lewenslange leervaardighede bevorder.”

Hierdie benadering help studente ook om ’n gevoel van agentskap, aanpasbaarheid en veerkragtigheid te ontwikkel en berei hulle beter vir ’n snelveranderende wêreld voor.

“Suid-Afrika se kurrikulum bly op mense gefokus sonder om oorweging te skenk aan die wêreld wat groter as die mens is, en dit is ook te veel op Eurosentriese leer gefokus. Kurrikulums moet die grense tussen alternatiewe maniere van leer verskuif,” voeg sy by.

Van links is Beitske Bouwman, stigter van die Anaya Academy, prof Shan Simmonds, subarealeier in die navorsingseenheid Onderwys en Menseregte in Diversiteit (Edu-HRight), prof Harry Wels van die Vrije Universiteit, prof Ida Sabelis, ook van die Vrije Universiteit en ʼn buitengewone professor by Edu-HRight, en Frans Kamsteeg van die Vrije Universiteit.

Submitted on Tue, 11/07/2023 - 14:49