Oestersampioene kan bruin seegras ’n voedingsryke opsie vir inheemse hoenders maak

Bruin seegras is bekend daarvoor dat dit ’n ryk bron van minerale soos kalsium, mangaan, kalium, natrium, fosfor, swael en yster is. Voeg oestersampioene by hierdie mengsel en die resultaat kan ’n baie voedingryke bron van voer vir inheemse hoenders wees.

So redeneer Godfrey Mhlongo ’n PhD-student in dieregesondheid by die Noordwes-Universiteit (NWU), wie se PhD-tesis “Towards the optimisation of brown seaweed (Ecklonia maxima) for indigenous chickens using oyster mushrooms” getitel is.

Godfrey ondersoek ’n manier om bruin seegras met behulp van oestersampioensaad – wat ’n miselium is wat in die laboratorium in stoomgesteriliseerde graan (gewoonlik rog of manna) gekweek word – te benut.

Hy gebruik bruin seegras (makro-alge), wat ook as kelp bekend staan en veral digby die kus aangetref word, as ’n onkonvensionele voedingsbron vir Venda-haantjies.

Die oestersampioensaad wat hy by die seegras voeg, is bekend daarvoor dat dit lignienafbrekende ensieme produseer, aangesien dit op lignienbevattende substrate groei.

Godfrey sê sy navorsingsprojek behels twee proefnemings oor voeding.

“In die eerste proefneming sal die effek van gegradeerde vlakke van seebamboes op waargenome verteerbaarheid van voedingstowwe, groeiprestasie, bloedparameters, karkaseienskappe en die gehalte van die vleis van Venda-haantjies vasgestel word.” Dit sal hom in staat stel om ’n optimuminsluitingsvlak vir die seebamboes te bepaal.

“In die tweede proefneming sal die voedingswaarde van die seebamboes in die dieet van Venda-haantjies geoptimaliseer word deur verskillende oestersampioensaadvlakke te gebruik om op hoër vlakke as die optimum by die dieet in te sluit,” sê hy. 

Godfrey Mhlongo
Godfrey Mhlongo.

 

Submitted on Mon, 09/20/2021 - 11:20