NWU is vyfde op ranglys in Suid-Afrika

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is weer eens onder die room van die oes van die plaaslike en internasionale universiteite, en sy plek is bevestig as ’n gereelde mededinger wat hoëkwaliteit-vakaanbiedings en uitnemendheid op wêreldranglyste betref.

Volgens die jongste graderings van die Shangai Ranking Consultancy se 2021 Academic Ranking of World Universities (ARWU) wat op 15 Augustus aangekondig is, word die NWU op grond van deursigtige metodologie en objektiewe derdepartydata as een van die wêreld se top-1 000 navorsingsuniversiteite erken.

Die NWU is een van nege Suid-Afrikaanse universiteite wat by ARWU se gesogte lys ingesluit is. Dit is vyfde in Suid-Afrika gelys, met ’n streeksgradering in die vyf-tot-agt-groepering van ARWU se streeksgradering. Dit is in die 601-to-700- internasionale kategorie geplaas.

Die vyfde plek in die streek is ’n trappie hoër as die sesde plek wat die NWU in 2019 sowel as in 2020 ontvang het, en ’n verdere verbetering op die NWU se sewende plek in 2018.

ARWU identifiseer die NWU se vakaanbiedings met die beste gradering as dié op die gebied van openbare gesondheid (101-tot-150-gradering); kliniese medisyne; en gasvryheid en toerismebestuur (151-tot-200-gradering); atmosferiese wetenskap; en regte (201-tot-300-gradering); wiskunde (301-tot-400-gradering); ekologie; en opvoedkunde (401-tot-500-gradering).

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, sê dat die prestasies op die ranglyste bydra tot die NWU se droom om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek bekend is.

“Die universiteit se verbintenis tot uitnemendheid in navorsing en onderrig en leer is die gevolg van die NWU-familie se passie, toewyding en verbintenis. Internasionale erkenning soos hierdie dien as bemagtiger vir die versterking van vennootskappe en internasionale samewerking. Die toekoms van nagraadse studies en navorsing sal deur transdissiplinêre navorsing, vennootskappe, samewerking en netwerke gedryf word. Ons is baie tevrede met ons oorkoepelende prestasie in navorsing en onderrig-leer.  Ons kan die resultate sien van die implementering van ons strategie, waarin ons personeel op akademiese sowel as ondersteuningsgebied hulle tyd en kundigheid belê het.”

Om meer oor die NWU se indrukwekkende prestasies in die internasionale en nasionale ranglyste te lees, besoek: https://www.nwu.ac.za/rankings.

Submitted on Wed, 08/25/2021 - 08:50