NWU vereer radio-aanbieder vir die bevordering van selfgerigte leer

Die wêreld is deurlopend besig om te ontwikkel, en om op hoogte te bly met die voortdurende vloei van veranderings, is lewenslange leer noodsaaklik.  Een van die doeltreffendste benaderings oor lewenslange leer is selfgerigte leer (SGL), waar mense hulle eie leerdoelwitte stel en kies wat en hoe hulle wil leer.

Sy passie vir SGL en sy vasberadenheid om ’n lewenslange student te wees, het op 4 November vir Johan van Lill, aanbieder op Radio Sonder Grense (RSG), ’n toekenning van die Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer aan die Noordwes-Universiteit (NWU) besorg.  Die toekenning is by die universiteit se Vierde Internasionale Selfgerigte Leer-konferensie aan hom oorhandig, en dit hom die eerste ontvanger gemaak wat erkenning ontvang vir die bydrae wat tot die bevordering van SGL in die breë samelewing gelewer word.

Johan, ’n onderwyskenner, skrywer en motiveringspreker, het baie ure van sy radioprogramme aan SGL gewy en platforms vir onderwysers, studente en ouers geskep om by verskillende verwante aspekte – veral in die onderwyssektor – betrokke te raak.

Meng werk en opvoeding

“Dit is wonderlik om erkenning soos hierdie te ontvang. Ek voel bevoorreg om my passie vir die onderwys met my werk as aanbieder by RSG te kan kombineer,” sê Johan.

Hy sê hoewel hy baie dankbaar is oor die toekenning, die grootste erkenning die positiewe terugvoer is wat hy van luisteraars en onderwysers ontvang, en die wete dat sy betrokkenheid tot lewenslange leer bydra.

Johan het programme oor onderwerpe soos die belangrikheid van SGL, SGL en tegnologie, SGL tydens die Covid-19-pandemie en SGL en inheemse kennis aangebied. Hy het onderhoude met talle kundiges op die gebied gevoer en ook die NWU se derde internasionale SGL-konferensie gedek.

“Ek was nog altyd passievol oor die onderwys, maar my spesifieke passie vir SGL het begin ná ’n toevallige ontmoeting met prof Josef de Beer van die NWU se Fakulteit Opvoedkunde toe ek in daardie stadium die sameroeper vir die KykNet Fiësta-toekenningspaneel was. Hy het oor die belangrikheid van SGL gepraat en dit het my geïnspireer om betrokke te raak.”

Hy sê toe hy sy eerste programme begin het, dit duidelik geword het dat luisteraars meer oor SGL wou weet.

“RSG word vir talle luisteraars as ’n primêre bron van inligting beskou. Dit is ’n kragtige medium wat baie mense bereik. Dit is nie net studente en skoolleerders wat meer wil weet nie, maar ook ouers, veral diegene wat tuisonderrig aanbied.”

Johan sê hierdie ouers besef dat kinders verantwoordelikheid vir hulle eie leer moet neem en wil weet wat hulle kan doen om hulle kinders te ondersteun. “Ek glo dat deur SGL te bevorder, ons ook ’n hele geslag bemagtig.”

Meer oor die konferensie

Die NWU se Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer het van 3 tot 5 November 2021 die Vierde Internasionale Selfgerigte Leer-konferensie aangebied.

Afgevaardigdes van regoor die wêreld het die lig op SGL-navorsing laat val en op die lesse wat tydens die Covid-19-pandemie geleer is.

Die drie hoofsprekers was almal ontvangers van die gesogte Malcolm Knowles-toekenning van die Internasionale Vereniging vir Selfgerigte Leer ― die hoogste vorm van erkenning wat aan navorsers op die gebied van SGL toegeken kan word.

Hulle was prof Michael Ponton van Texas A&M University-Commerce, prof Naomi Boyer van Polk State College in Florida, en die NWU se eie prof Elsa Mentz.

Prof Ponton se hoofrede was getiteld “An agentic perspective of learning and suggestions for teaching”. Prof Naomi Boyer het gepraat oor “The digital skills economy and self-directed learning”, en prof Elsa Mentz het gepraat oor “Putting self-directed learning research and practice to the test: Looking at the past, challenging the future”.

Van die temas wat ondersoek is, het tegnologie-ondersteunde samewerkende leer, vervlegte leer in minderbevoorregte kontekste en die rol van digitale tegnologie in formele assessering ingesluit.

Prof Josef de Beer en prof Neal Petersen het ook ’n referaat gelewer oor eerstejaarstudente se aanlyn virtuele ekskursies wat die NWU in 2021 begin het. Die ryk data wat ingesamel is, het getoon dat virtuele, aanlyn omgewings, wat deur probleemgebaseerde samewerkende leerbeginsels ondervang word, selfgerigte leer bevorder.

Klik hier om na die video te kyk

........

Johan van Lill sê hy is baie dankbaar teenoor RSG, aangesien hierdie radiostasie aan hom ’n platform besorg het om selfgerigte leer te bevorder.

Submitted on Thu, 11/04/2021 - 15:09