NWU Vanderbijlpark: meesters in denksport

As dit kom by denksport as ‘n mededingende sportsoort, dan neem die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark beslis die voortou.

Tydens die onlangse Gauteng-kampioenskappe wat in Randburg gehou is, het die span van Vanderbijlpark nie net ‘n blywende indruk op hul teenstanders gelaat nie, maar ook as wenners in verskeie afdelings na vore getree.

Die kampus se denksportafrigter, Joseph Matlhong, het saam met sy spanmaat, Sebolelo Motlhabi, provinsiale kleure in die Morabaraba spel verwerf. Karabo Mosimane het op haar beurt provinsiale kleure in dambord (Checkers) gekry.

Spanmaats Samson Thinane en Thabo Kgopane het gesamentlik as wenners uit die stryd getree in hul dambord-rondte, terwyl Boipelo Ntladi ‘n derde plek los gespeel het.

In die Fifa 19-uitdaging het die NWU Vanderbijlpark se Lindokuhle Sithole, Mduduzi Msiza en Lehlogonolo Metsie korte mette van hul teenstanders gemaak en onderskeidelik die eerste, tweede én derde plekke verower. Mhlengi Nkosi se Tekken 7-vaardighede het vir hom ‘n derde plek verseker. Mhlengi moet nog aan twee kampioenskappe deelneem alvorens hy sy nasionale kleure in dié afdeling kan kry.

Denksport as ‘n mededingende sportsoort

Die kampus het in 2017 by Denksport Suid-Afrika (MSSA) aangeluit, en sedertdien het die sport met rasse skrede gevorder. Trouens, dit het die kampus minder as 24 maande geneem om nasionale bekendheid te verwerf.

Die klub het tans meer as 100 lede wat aan twee hoofdissiplines deelneem: bordspeletjies (soos Morabaraba, kaartspeletjies en oorlogspeletjies) en e-sport. Laasgenoemde verwys na alle rekenaarspeletjies en dié met ’n digitale basis, soos Fifa 18, Tekken 7, League of Legends, Counter Strike en robotika.

Sedert die begin van denkspeletjies op die kampus het die gewildheid van die sportsoort alle verwagtinge oortref. Die klub se lede sluit personeel én studente in.

 

 

 


 

Submitted on Tue, 02/26/2019 - 16:31