NWU Vaal en KFC Minikrieketfees: klein spelertjies, groot drome!

As dit kom by kriekettalent staan die Vanderbijlpark nie ‘n enkele tree terug nie, en is die kans goed dat die volgende AB de Villiers, JP Duminy en Kagiso Rabada uit eie geledere opgelewer sal word. Dié gewaarwording is tydens die onlangse KFC Minikrieketfees gemaak, wat op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark aangebied is.

Meer as 590 kinders, verteenwoordigend van 20 skole in die streek, het aan die fees deelgeneem en spelers van so jonk as ses jaar het gewys hoe vaardig hulle met die kolf en bal is.

Volgens dr Anita Lennox, een van die organiseerders en ‘n dosent verbonde aan die Skool vir Bestuurswetenskappe, bied die jaarlikse fees aan kinders nie net die geleentheid om hul krieketvaardighede op te skerp nie, maar ook om voordeel te trek uit die deelname aan spansport. Hierdie voordele sluit onder meer in die ontwikkeling van leierskapsvaardighede, gereelde fisiese oefening, die bou van ‘n gesonde selfbeeld en die vermoë om goed saam met ander te werk.

Die fees is deur die vakgroep Sportbestuur in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die KFC-kitskosketting en Krieket Suid-Afrika aangebied. Vanjaar se fees  het ook met die volgende borge gespog: Colefax Trading (Pty) Ltd, KFC Vanderbijlpark SW5, KFC Vanderbijlpark SBD, KFC Vaal Mall, KFC Drie Riviere, KFC Vereeniging 1 en KFC Arcon Park. Die Central Gauteng Lions-krieketspan het ook die dag ondersteun.

Die kampus het vanjaar vir die sesde keer as gasheer opgetree. Die inisiatief het in 1983 begin om seuns en meisies aan krieket bekend te stel en ’n passie vir een van Suid-Afrika se mees geliefde sportsoorte te kweek.

Die organiseerders van die fees was, van links: Fanie Roos, dr Anita Lennox, Koos de Villiers (seremoniemeester) en dr Liandi van den Berg.  Afwesig: Jackie Bonnema.

 

Meer as 590 kinders het aan vanjaar se fees deelgeneem.

 

 

Submitted on Fri, 09/27/2019 - 10:39