NWU-superheld gee hipertensiebewustheid ’n kragtige hupstoot

Is dit Superman? Batman? Spiderman? Nee, dit is Kaptein Hart! Hy is Noordwes-Universiteit (NWU) se superheld op ’n belangrike sending – om ’n bewustheid van die gevare van hipertensie te skep en om jong kinders te inspireer om gesonde eetgewoontes aan te kweek.

Hierdie nuwe superheld is die inisiatief van prof Ruan Kruger, wie se navorsing in die vroeë opsporing en voorkoming van kardiovaskulêre siekte ’n belangrike bydrae in die stryd teen hipertensie en vetsug in Afrika lewer.

Ruan beklee die SARChI-navorsingstoel vir die vroeë opsporing en voorkoming van kardiovaskulêre siekte in Afrika, wat deur die Departement van Wetenskap en Innovering (DSI) en die Nasionale Navorsingstigting (NNS) befonds word, en hy is ook die voorsitter van die Next Generation Network van die Suid-Afrikaanse Hipertensievereniging (SAHS). Hy is deel van die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART), ’n navorsingsentrum van uitnemendheid by die NWU.

Die bekendstelling van Kaptein Hart val saam met Ruan se intreelesing op 2 September.

Reis deur slagare bevorder hartgesondheid

Kaptein Hart kry gestalte in ’n opwindende en prettige animasievideo en strokiesverhaal vir kinders van vyf tot 13 jaar. ’n Pamflet met inligting is ontwerp om aan ouers praktiese raad te gee oor hoe hulle kan verseker dat hulle kinders gesonder keuses maak.  

Die storie vertel hoe Kaptein Hart ’n dogtertjie, Carol, en haar groepie maats in Kaptein Hart se karretjie deur die liggaam neem na die hart van iemand wat nie gesonde keuses gemaak het nie. Op hulle pad het hulle ’n noue ontkoming deur plaakgevulde slagare.

Hulle leer van belangrike konsepte soos bloeddruk, liggaamsmassa-indeks en polsgolfsnelheid, en hierdie nuwe kennis bemagtig hulle om self harthelde te word.

Die ontwerp van die animasie, strokiesverhaal en pamflet is deur JIVE Media Africa gedoen. Die video is in Engels en Tswana beskikbaar, terwyl die strokiesverhaal en pamflette in Engels, Tswana en Afrikaans is.

Kaptein Hart het uit studie ontstaan

Ruan sê die konsep van Kaptein Hart het ontstaan uit ’n studie genaamd Exercise, Arterial Modulation and Nutrition in Youth South Africa (ExAMIN Youth SA), waarvan hy die hoofondersoeker is. Sy onlangse navorsing, getitel “A demographic approach to assess elevated blood pressure and obesity in prepubescent children: The ExAMIN Youth South Africa study”, het ook verskeie konsepte in die ontwikkeling van Kaptein Hart geïnspireer.

Hierdie studie wou die voorkoms van hipertensie en vetsug by ’n groep van 1 062 Suid-Afrikaanse kinders tussen die ouderdom van vyf en nege jaar vasstel, en unieke eienskappe ten opsigte van geslag en etnisiteit identifiseer. Dit het ook die kanse beraam van die ontwikkeling van hoë bloeddruk in die teenwoordigheid van vetsug (liggaamsvet).

Amper 20% van die kinders in die studie was oorgewig en 14,1% het verhoogde bloeddruk en 22,8% het hipertensie gehad.

Etniese verskille het ingesluit dat daar meer vetsug by wit kinders as by swart kinders was, maar ’n hoër diastoliese bloeddruk en totale vaskulêre weerstand by swart kinders vergeleke met wit kinders. Hierdie aanwysers was ook hoër by meisies as by seuns. Diastoliese bloeddruk meet die krag waarmee die hart tussen hartslae teen die wande van die slagare druk.

“Dit is uit hierdie studie duidelik dat unieke geslags- en etniese verskille in liggaamsamestelling en bloeddruk by prepuberteitskinders bestaan, met oorgewig/vetsug wat die risiko van verhoogde bloeddruk laat toeneem. Ons bevindings ondersteun primêre voorkomingstrategieë om die toenemende las van hipertensie- en vetsugverwante siektes by kinders te bekamp.”

Ruan sê Kaptein Hart is ’n effektiewe en opwindende manier om die wetenskap van hoë bloeddruk en die skadelike gevolge daarvan op die liggame van jong kinders oor te dra. “Dit is ontstellend om te dink dat een uit elke vyf kinders hoë bloeddruk het en dat een uit vyf oorgewig of vetsugtig is. Dit is noodsaaklik om dit op ’n vroeë ouderdom te identifiseer om doeltreffende behandeling en voorkomende maatreëls te verseker sodat ernstige gesondheidskwessies later beperk kan word.”

Die voortgesette ExAMIN Youth SA-studie word deur die NNS van Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se selfgeïnisieerde navorsingstoekenning befonds.

Om Kaptein Hart in aksie te sien, besoek https://www.youtube.com/watch?v=cZFajR5q1pM

Om meer oor hierdie studie te lees, besoek: http://health-sciences.nwu.ac.za/examin-youth-sa/home

Foto van comic book

Om die strokiesverhaal te lees, klik hier

........

Prof Ruan Kruger.

........

Hierdie pamflet gee praktiese inligting aan ouers en onderwysers.

 

 
Submitted on Thu, 09/02/2021 - 08:44