NWU stel nuwe adjunk-visekanselier vir kampus in Mahikeng aan

Die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) het tydens sy vergadering op 18 November vir prof Sonia Swanepoel as die nuwe adjunk-visekanselier vir Gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampusbedrywighede aangestel. Sy sal vir ’n termyn van drie jaar dien.

As ’n bedryfsielkundige het prof Swanepoel uitvoerige kennis en ervaring op verskeie gebiede van onderrig en leer, navorsing en innovasie, gemeenskapsbetrokkenheid en bestuur.

Sy dien sedert Mei 2021 as waarnemende adjunk-visekanselier vir Gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampusbedrywighede. Voor dit was sy vier jaar lank die uitvoerende dekaan van die NWU se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Prof Swanepoel het ook voorheen as die uitvoerende dekaan van die voormalige Fakulteit Handel en Administrasie in Mahikeng gedien.

Voordat sy 11 jaar gelede by die NWU aangesluit het, was sy ’n konsultant vir Synergy Labour Consulting en het verskeie posisies by die Tshwane Universiteit van Tegnologie beklee, insluitend as dekaan en departementshoof. Sy was ook van 1982 tot 2003 onderskeidelik lektor, senior lektor en hoof by die Technikon Pretoria.

Prof Swanepoel het ’n BCom- en BCom Hons-graad in Personeelbestuur, en ’n MCom- en DCom-graad in Mensehulpbronbestuur van die Universiteit van Pretoria.

Sy is deel van verskeie professionele organisasies, insluitende die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika en die Sielkundevereniging van Suid-Afrika vir Bedryfsielkunde. Sy was van 2011 tot 2015 die voorsitter van die hoëronderwyskomitee van die Suid-Afrikaanse Raad vir Mensepraktyke (SARMP). Daarbenewens was prof Swanepoel tot 2015 ’n SARMP-raadslid, en is ’n geoktrooieerde mensehulpbronkundige van hierdie organisasie.

Prof Swanepoel het al verskeie artikels by konferensies aangebied, en artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte asook in ander tydskrifte en verslae gepubliseer. Deur haar leiding en mentorskap het nege studente hulle PhD-grade en 16 hulle meestersgrade verwerf.

Die NWU Raad het haar met haar aanstelling gelukgewens en hulle volle vertroue uitgespreek in haar vermoë om die NWU se Mahikengkampus te lei en as deel van die uitvoerende bestuurspan, die breër universiteit tot selfs groter suksesse te voer.

........
Prof Sonia Swanepoel
 

Submitted on Fri, 11/19/2021 - 15:12