NWU-spiesgooiers ryg die meters in

Daar het by tye vraagtekens oor Waldouw Smit se spiesgooiloopbaan gehang. Gaan hy sy beseringspoke kan afskud? Gaan hy sy potensiaal kan bereik? Gaan hy die 80 m-kerf kan oorskry? Die antwoorde is “ja”, “ja” en nogmaals “ja”.

Hierdie voormalige leerder van Potchefstroom Gimnasium wat deur Terseus Liebenberg by die NWU gementor word, was as 17-jarige al ’n SA Skole-kampioen en die spiesgooiwêreld was aan sy voete.

Besering op besering het egter gevolg en hy kon eers in 2021 weer ʼn spies die vertes instuur. Op 28 Mei hierdie jaar in Sasolburg het hy ʼn persoonlike beste van 80,96 m gegooi en op 15 Junie in Kladno in die Tsjeggiese Republiek het hy dit tot 81,63 m verbeter. Hy het ook die byeenkoms met daardie afstand gewen.

Jo-Ané van Dyk het op 2 Junie in Oostenryk ook ʼn persoonlike beste van 61,61 m gegooi en tweede by hierdie kompetisie geëindig. Sy het onlangs by die Afrikakampioenskap in St Pierre, Mauritius met ’n afstand van 60,65 m goud ingepalm.

By die einste kompetisie was Johann Grobler vierde met ʼn afstand van 73,82 m.

Dit is ’n merkwaardige rits spiesgooiprestasies, en die beste kom waarskynlik nog.

.......

Waldouw Smit, Anita van der Lingen (fisioterapeut) en Terseus Liebenberg. Foto: Wouter Pienaar/Potchefstroom Herald

Submitted on Mon, 06/20/2022 - 14:58