Die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 8 Februarie 2025 op al drie kampusse die pers tapyt vir sy nuutste ambassadeurs uitgerol en ongeveer 13 000 eerstejaars by die NWU-familie verwelkom. Die amptelike verwelkoming het op die Vanderbijlparkkampus plaasgevind, met ’n lewendige uitsending na die Potchefstroom- en Mahikengkampus.
Met verskeie hooggeplaastes, insluitende Raadslede, senior bestuurslede en studenteleierskap wat dit bygewoon het, was die geleentheid meer as bloot ’n bekendstelling – dit was ’n belofte van wonderlike dinge wat voorlê. Dit het ’n nuwe begin aangedui, met oneindige moontlikhede en ’n nuwe tydperk van NWU-grootsheid.
Die vernaamste verwelkoming het gekom van prof Mzubanzi Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, wat die eerstejaarstudente met oop arms verwelkom het en hulle gelukgewens het dat hulle ’n plek by die NWU losgeslaan het.
“Vandag is die begin van julle ongelooflike reis. Julle is nou deel van ’n lewendige, diverse en inklusiewe gemeenskap wat tot uitnemendheid verbind is.” Prof Tyobeka het die studente voorts aangemoedig om ten volle gebruik te maak van wat die NWU vir hulle kan bied.
“Julle tyd hier sal lewensveranderend wees, julle sal met akademici van wêreldgehalte skouers skuur, by baanbrekernavorsing betrokke raak, en uitgedaag word om krities te dink. Sluit by studentestrukture en -verenigings aan, pak nuwe sportsoorte aan, neem aan kulturele aktiwiteite deel, en boweal, verlaat julle gemaksone. Dit begin alles hier, maar waar dit gaan eindig, hang geheel en al van julle af.”
Kamohelo Zwane, voorsitter van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR), het die eerstejaars uitgedaag om hulle stempel af te druk deur ’n betekenisvolle verskil by die NWU te maak en die instelling ’n beter plek te laat as wat hulle dit aangetref het.
Prof Sibusiso Chalufu, uitvoerende direkteur van Studentelewe en waarnemende adjunk-visekanselier van die Vanderbijlparkkampus, het beklemtoon dat om die NWU te kies een van die beste besluite is wat die studente kon maak.
“Julle het na die wêreld van kampioene gekom. Ons lewendige studentelewe is wat ons uniek maak. Ons is daartoe verbind om julle holistiese ontwikkeling te verseker en aan julle ’n ryk studente-ervaring te bied deur aan julle ’n verskeidenheid ko-kurrikulêre programme en aktiwiteite te verskaf.”
Intussen het dr Corrie Rheeder, direkteur van Studentelewe, op die Potchefstroomkampus die aankoms van die eerstejaars gevier en hulle verseker dat hulle nie alleen is nie. “Die NWU is meer as bloot ’n universiteit – dit is ’n tuiste waar ons almal mekaar ondersteun en ophef,” het sy gesê.
Prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir Inligtingstegnologie en Kampusbedrywighede (Potchefstroomkampus) het die entoesiasme gedeel deur die eerstejaars aan te moedig om hierdie nuwe hoofstuk in hulle lewens te omarm.
By die Mahikengkampus het die adjunkvisekanselier vir Gemeenskapsbetrokkenheid en Kampusbedrywighede (Mahikengkampus), prof Sonia Swanepoel, ’n lewendige en interaktiewe toespraak gelewer. Sy het ’n vasvra ingesluit en diegene wat met die korrekte antwoorde vorendag gekom het, met korporatiewe geskenke beloon. Hierdie benadering het die toon aangegee vir die akademiese jaar wat voorlê.
Die feesvieringe het nie daar opgehou nie. Die teenwoordiges regoor al die kampusse is regdeur die seremonie op betowerende optredes deur verskeie kore getrakteer. Met harmonieë wat die lug vul en die gehore wat dans en juig, was die gebeure iets om te aanskou. Boonop het die universiteit se geliefde gelukbringer, Eagi, die eerstejaars met sy teenwoordigheid vereer, wat die kersie op die koek was op hierdie gedenkwaardige dag.
Hope pers trots, baie nuwe gesigte, en nuwe drome. Dit is waar alles begin. Welkom by die NWU!
Prof Sonia Swanepoel lewer ’n inspirerende en interessante toespraak op die Mahikengkampus.

Eerstejaars op die Mahikengkampus.

Die NWU Koor se stemme vul die lug met melodieë van verwelkoming.
Prof Mzubanzi Bismark Tyobeka heet die NWU-familie se nuutste lede welkom.
.
Eerstejaarstudente vrolik alles op met energieke sang in die Tsebonokeng-saal op die Vanderbijlparkkampus.