NWU se Marga reg om internasionaal te presteer

Marga Cummings, ‘n student van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark, het haar oog op internasionale sukses.


As een van Suid-Afrika se top gekeurde hammergooi-atlete, sal sy eersdaags die geleentheid hê om teen atlete van regoor die wêreld mee te ding wanneer sy Suid-Afrika by die Wêreld Studente Spele én die Afrika Spele sal verteenwoordig.

Die eerste bestemming op haar internasionale avontuur is Napoli in Italië. Die Wêreld Studente Spele – ook genoem die “Summer Universiade” – vind vanaf 3 tot 14 Junie 2019 plaas. Tydens hierdie kampioenskap sal meer as 9 300 atlete in 18 verskillende sportsoorte meeding.

Net meer as ‘n maand later sal Marga haar tasse pak vir die Afrika Spele wat in Rabat, Morokko sal plaasvind. Vanjaar sal 53 nasies aan die kampioenskap vanaf 19 tot 31 Augustus deelneem.

Volgens Marga is sy in hierdie twee nasionale spanne ingesluit ná haar prestasie om verder as 60 meter te gooi. “Buiten dat ek die 60-metermerk oortref het, glo ek ook dat my tegniek – danksy my mentor en afrigter, hamergooi-legende Chris Harmse – tot my insluiting in hierdie spanne bygedra het,” sê Marga.

Sy vertel dat sy fisies en geestelik nou “op die regte plek” is om internasionaal te presteer, en dit lyk of 2019 ʼn baie goeie jaar vir haar is.

Margo sê sy is op haar gelukkigste wanneer sy die hammergooisirkel betree. “Wanneer ek in die sirkel is, kan ek fokus en vir ʼn oomblik die lewe en gepaardgaande uitdagings vergeet.”

Marga spog met ‘n persoonlike beste afstand van 61,27 meter.

Meer oor Marga

Sy is gebore en getoë in Middelburg in die Oos-Kaap, en het by haar broer, Alan (23), in Vanderbijlpark aangesluit om haar sportloopbaan te bevorder.

Interessant genoeg is haar broer ook ʼn talentvolle hammergooier, en sal hy by haar aansluit as lid van die Suid-Afrikaanse studentespan.

Hier is Marga en haar broer, Alan (links), saam met hul afrigter en mentor, Chris Harmse. Foto: Facebook

 

Submitted on Thu, 05/23/2019 - 09:52