NWU se kanselier ontvang gesogte internasionale toekenning

Die kanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) is vereer met ’n gesogte internasionale toekenning omdat sy ’n verskil in haar gemeenskap maak – nie net plaaslik nie, maar ook wêreldwyd.

Dr Anna Mokgokong, wat in 2019 as die NWU se kanselier ingehuldig is, is die ontvanger van die Internasionale Vroueforum (IVF) se Vroue wat ’n Verskil Maak-toekenning vir 2022. Die IVF-toekenningseremonie het 3 November in Las Vegas, Nevada in die Verenigde State van Amerika plaasgevind.

Dr Mokgokong, wat die voorsitter van die direksie van onder andere Community Investment Holdings (Edms) Bpk en Afrocentric is, is ’n ware maatskaplike aktivis en het geweldige bydraes gemaak tot die transformasie van die maatskappye op wie se direksies sy dien. Sy is ook ’n senior direkteur van verskeie maatskappye wat op die Johannesburgse Aandelebeurs genoteer is.

Volgens mnr Joe Madungandaba, hoof- uitvoerende beampte van die CIH Groep, is dr Mokgokong benoem uit talle waardige en vooraanstaande vroue wat lede van die organisasie is en wat innoverende, volhardende en transformasionele leierskap oor die bestek van hulle loopbaan demonstreer.

Dr Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, wens dr Mokgokong met die ontvangs van die toekenning geluk. Hy sê dit is vir die NWU ’n trotse oomblik om te sien hoe dr Mokgokong welverdiende erkenning op ’n internasionale platform soos die IVF ontvang.

Me Irene Charnley, huidige voorsitter van die UVF se Suid-Afrikaanse afdeling, sê dr Mokgokong beliggaam hulle gedeelde missie om vroue se leierskap te bevorder en gelykheid wêreldwyd voor te staan. “Ons het haar vir hierdie gesogte toekenning benoem omdat ons glo dat sy dit onder wêreldwye vroueleiers verdien.”

Meer oor die IVF

Die Internasionale Vroueforum is ’n wêreldwye internasionale netwerk van vooraanstaande en bekwame vroue waartoe toegang slegs op uitnodiging verkry word. Dit bring professionele vroueleiers uit alle sektore byeen ter ondersteuning van mekaar ten einde vroue se leierskap te bevorder.

Dit bestaan uit meer as 7 500 lede in 33 lande en 73 plaaslike forums. Lede sluit onder andere uitvinders, entrepreneurs, staatshoofde, akademici en wetenskaplikes in.

Om meer oor die IVF uit te vind, besoek:  International Women's Forum (iwforum.org).

Chancellor

Dr Anna Mokgokong.

Submitted on Fri, 11/04/2022 - 07:49