Die wêreld is besig om vinnig te verander, en grade is nie meer ’n waarborg van werk of om die relevansie van vaardighede te verseker nie. Voortgesette leer, opgradering van vaardighede, en die aanleer van nuwe vaardighede nadat studente gegradueer het, is noodsaaklik. Mikrokwalifikasies kan ’n antwoord wees.
Mikrokwalifikasies** word erken as gesertifiseerde eenhede van leeruitkomste wat formele onderwys omvat en nieformele leer onderskryf sodat daar moontlikhede is om hoër kwalifikasies te verwerf. Hulle staan gereed om ’n vername rol te speel om toegang tot leer, hoër onderwys en die voltooiing van studies vir formele kwalifikasies moontlik te maak. Mikrokwalifikasies dra ook tot verbeterde indiensneembaarheidsuitkomste en die ontwikkeling van ’n vaardiger en aanpasbare arbeidsmag vir verskillende bedrywe by.
In hulle missie om hulleself strategies te posisioneer om mikrokwalifikasies en lewensvatbare alternatiewe aan studente te bied, het die Noordwes-Universiteit (NWU) die leidende rol ingeneem as een van die eerste Suid-Afrikaanse universiteite wat die proses van leer en die verkryging van ’n formele graad meer aanpasbaar en bekostigbaar maak.
Dit het in 2023 in alle erns begin toe die universiteit ’n raamwerk oor mikrokwalifikasies aanvaar het. Hierdie raamwerk maak voorsiening vir die gee van erkenning vir die verskillende “alleenstaande” boublokke of krediete vir formele kwalifikasies.
PoMiSA-projek beklemtoon die transformatiewe potensiaal van mikrovaarkwalifikasies
“Ons is tans een van sewe lande – insluitende Namibië, Lesotho, Mauritius, België, Estland en Ierland – wat op die voorpunt is om ’n beleidsraamwerk vir mikrokwalifikasies vir die Suider-Afrikaanse streek te ontwikkel,” sê prof Alida Herbst, adjunkdekaan vir onderrig en leer in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe.
Hierdie beleidsraamwerk vorm deel van die “Potentials of microcredentials in Southern Africa”-projek (PoMiSA-projek).
Die doel van die inisiatief, wat deur die Europese Unie gefinansier word, is om hoër onderwys en arbeidsmagontwikkeling regoor die streek te versterk. Dit is ’n gesamentlike poging onder voorste Afrika- en Europese universiteite, nasionale en streeksrade, en strategiese vennote om die transformatiewe potensiaal van mikrokwalifikasies te ondersoek en te bevorder.
Die projek se vernaamste doelwit is om deur ’n beleid oor mikrokwalifikasies die kapasiteit van hoër onderwys in Suider-Afrikaanse lande te ontwikkel.
Volgens prof Herbst is die eerste deel van die PoMiSA-projek amper voltooi. Hierdie deel bevat die verslae van sewe lande oor die rol wat vennootskapslande speel. Hierdie verslae verskaf insigte oor hoe onderwysstelsels by die veranderende eise van die bedryf kan aanpas. (Die verslae is vir insae beskikbaar en kan by https://pomisa.hec.mu/ van die PoMiSA-webwerf afgelaai word.)
Die NWU-span is vir Work Package (lewerbare produk) 2* van hierdie verslae verantwoordelik. Die eerste lewerbare produk bestaan uit die verskillende lande se verslae, wat in die tweede week van
Februarie hierdie jaar gepubliseer is. Die volgende een, wat in die middel van Maart vrygestel gaan word, sal ’n sinteseverslag behels. Dit word tans hersien.
Verdere werkspakkette in die projek is aan die gang en die projek sal in Oktober 2025 met ’n konferensie in Mauritius afsluit.
NWU se reis met mikrokwalifikasies
Mikrokwalifikasies kan die kurrikulum nader aan die werksomgewing bring. Om die ontwikkeling van mikrokwalifikasies, wat hierdie aanpasbaarheid bied, moontlik te maak, het die NWU Senaat ’n raamwerk vir mikrokwalifikasies goedgekeur. Die doel daarvan is om aanspreeklikheid te verseker vir die bewyslewerende verband tussen mikrokwalifikasies en die kwalifikasies waarvan hulle deel is (met ander woorde die krediete en programme of kwalifikasies wat met hulle verband hou).
Die oogmerk daarvan is om die deursigtigheid en integriteit te verseker van die prosesse wat by die identifisering, aanbeveling, goedkeuring en monitering van mikrokwalifikasies betrokke is.
Uit die NWU se oogpunt is die waardeproposisie van die mikrokwalifikasies dat die hoogste gehalte van diens gelewer kan word aan geregistreerde studente, asook niegeregistreerde deelnemers wat vir ’n mikrokwalifikasie ingeskryf is deurdat akkurate, tydige en relevante inligting verskaf word.
“Ons is baie opgewonde oor die moontlikhede wat mikrokwalifikasies bring – vir ons studente asook ons eksterne belanghebbers – en het beduidend gevorder met ons plan om mikrokwalifikasies by die NWU bekend te stel,” sê prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer.
Werkswinkel evalueer die NWU se gereedheid
Prof Herman van der Merwe en die span van PoMiSA het in September 2024 die kundigheid van die internasionale kundige dr Caroline Steel verkry om ’n werkwinkel oor die gereedheid vir mikrokwalifikasies by die NWU aan te bied.
Die werkswinkel het dr Steel se gestruktureerde, getoetste raamwerk gebruik om die universiteit se institusionele gereedheid en paraatheid ten opsigte van mikrokwalifikasies wat met globale tendense ooreenstem, te evalueer. Dit het op die vrae “Waarom?”, “Wie?”, “Hoe?” en “Wat?” van mikrokwalifikasies ten opsigte van die NWU gefokus.
Die evaluering het bevind dat die NWU by ’n eksperimentele stadium van gereedheid en paraatheid is en mikrokwalifikasies aktief ondersoek.
Prof Herman het aangedui dat die bevindings die geleenthede, uitdagings en strategiese aanbevelings om die NWU se gereedheid en paraatheid vir mikrokwalifikasies duidelik uitgespel het.
Die volgende stap op die NWU se pad na mikrokwalifikasies is om ’n projek te ontwikkel vir roetes ten opsigte van mikrokwalifikasies (“microcredentials pathways project”) wat met mikrokwalifikasies wat die arbeidsmark nodig het, digitale leertendense en die NWU-strategie belyn is.
Van die onmiddellike take wat deel is daarvan, sluit in:
· om ’n strategie-werkswinkel aan te bied om met ’n oog op die toekoms ’n padkaart vir mikrokwalifikasies te verfyn;
· om navorsings- en kunsmatige-intelligensie-verwante (KI-verwante) mikrokwalifikasies te ontwikkel; en
· om bedryfsverwante mikrokwalifikasies via ’n toekenningsprogram te ontwikkel en bekend te stel (die moontlikheid om medebefondsing vanuit die bedryf te verkry).
“Deur hierdie gebiede op ’n strategiese wyse aan te pak, kan die NWU mikrokwalifikasies volhoubaar in kategorieë verdeel en hulleself as nasionale leier in hierdie vorm van onderwys posisioneer,” sê prof Herman.
* Meer oor Work Package 2
Die primêre lewerbare produk van Work Package 2 is ’n sinteseverslag. Hierdie verslag ondersoek die stand van die konseptualisering van mikrokwalifikasies, beleidsontwikkeling en die implementering in Estland, België (Vlaandere), Ierland, Lesotho, Mauritius, Namibië en Suid-Afrika.
Volgens prof Herman produseer elke land ’n verslag wat rondom ’n gemeenskaplike templaat gestruktureer is en vier navorsingstemas dek: die konseptualisering van mikrokwalifikasies, verskaffers in die openbare en privaat sektor, die implementering en doeltreffendheid, en beleidsontwikkeling.
“Die verslag konsolideer bevindings om ’n oorsig oor die praktyk en beleid van mikrokwalifikasies te verskaf, hoewel konteks en variasies van datakonsekwentheid ’n paar beperkings veroorsaak. Die ontleding het ’n raamwerkontledingsmetodologie (FAM) aanvaar, spesifiek die raamwerksintese vir die “beste passing” om ’n omvattende en aanpasbare sintese van bevindings te verseker,” sê hy.
** Meer oor mikrokwalifikasies
** ‘n Mikrokwalifikasie is ‘n “alleenstaande boublok” van ‘n formele kwalifikasie. By die NWU bestaan ‘n baccalaureusgraad uit ten minste drie jaar van studie. Elkeen van hierdie jare omvat verskillende modules wat elkeen krediete dra. ‘n Student in Suid-Afrika het 120 krediete per jaar wat 360 in total moet wees. Die meeste internasionale universiteite het ‘n soortgelyke praktyk. Dit is hier waar mikrokwalifikasies ‘n noodsaaklike rol kan speel. Kleiner mikrokwalifikasies kan saam ‘n volle module lewer. Studente kan byvoorbeeld twee of drie mikrokwalifikasies voltooi en ‘n bewys ontvang vir elkeen, wat ‘n bydrae tot die uiteindelike module sal lewer. Vir meer besoek: https://www.nwu.ac.za/sites/www.nwu.ac.za/files/files/i-media/af-life-2…

Prof Alida Herbst

Prof Linda du Plessis

Prof Herman van der Merwe