NWU-navorser nou lid van Afrika-akademie vir wetenskap

’n Senior lektor in die navorsingsfokusarea Menslike Metabolomika aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is vir die volgende vyf jaar as ’n geaffilieerde lid van die Afrika-akademie vir wetenskap (AAW) gekies.

Dr Rencia van der Sluis is gekies vanuit jong, belowende Afrika-wetenskaplikes wat bekwaamheid in die ontwikkeling en toepassing van wetenskap in Afrika getoon het.

Die proses om AAS-geaffilieerdes te identifiseer, is hoogs mededingend, met 40 kandidate wat uit 220 aansoeke vir die sesde groep van AAS-geaffilieerdes gekies is. Daar is tans 87 geaffilieerdes uit 16 Afrikalande regoor alle dissiplines.

Die program vir geaffilieerdes ondersteun jong vakkundiges se professionele groeipad en skep bemagtigende navorsingsomgewings.  Die AAS speel ’n kataliserende en ondersteunende rol wat betref Afrikastate en hulle substreek-instellings se verantwoordelikheid om uitnemende navorsers wat ’n bydrae tot die vasteland se ontwikkelingsagenda kan lewer, te lok, te ondersteun en te behou. 

Meer oor dr Van der Sluis

Dr Van der Sluis het haar voorgraadse kwalifikasies en meestersgraad in genetika aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

Sy het haar loopbaan aan die NWU in 2007 as senior laboratoriumtegnikus in die navorsingsfokusarea Menslike Metabolomika begin. Nadat sy drie jaar lank voltyds gewerk het, het sy in 2011 vir ’n PhD in biochemie ingeskryf. Die suksesvolle voltooiing van haar PhD het in Julie 2015 gelei tot ’n bevordering tot vakgroepspesialis in molekulêre genetika.

Sy is tans ’n senior lektor, en is reeds sedert 2019 die vakgroepleier vir Biochemie. Sy is die hoofnavorser vir twee belangrike navorsingsfokusareas: die genetiese en ensimatiese karakterisering van die fase II-glisienkonjugasieweg, asook die ontwikkeling van molekulêre diagnostiese metodes vir toepassing in diereteling.

........

 Dr Rencia van der Sluis

Submitted on Tue, 04/20/2021 - 09:41