NWU-markdag – steek die vlammetjie van entrepreneurskap aan

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is ernstig oor entrepreneurskap en het gevolglik verskeie entrepreneursinisiatiewe wat daarop gemik is om die personeel, studente en die breër gemeenskap te bemagtig om finansieel onafhanklik te word.

Die jongste inisiatief is in die vorm van ’n markdag wat by die universiteit se kampus in Vanderbijlpark gehou gaan word.

Die geleentheid is ’n inisiatief van die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) en die doel is om aan alle lede van die Vanderbijlparkgemeenskap die geleentheid te gee om hulle dienste te bevorder en hulle goedere te verkoop.

Volgens die organiseerders gaan die markdag uit verskeie tydelike stalletjies bestaan waar verkopers handgemaakte produkte verkoop, asook uit stalletjies met heerlike kos.

“Ons wil nie net ’n kultuur van entrepreneurskap deur hierdie geleentheid bevorder nie, maar ook entrepreneurs aan ’n netwerk van hulle eweknieë en potensiële kliënte bekendstel,” sê Annelie Steenkamp van die bhive EDC. Sy voeg by dat die universiteit, deur entrepreneurskap te bevorder, voortbou op sy verbintenis om ’n positiewe impak te maak op die gemeenskap wat hy bedien.  

As jy belangstel om deel te neem aan hierdie gebeurtenis wat op 3 April plaasvind, moet jy registreer deur ’n e-pos aan Annelie.steenkamp@nwu.ac.za te stuur, of haar by 016 910 3393 kontak.

 

 

Submitted on Tue, 01/28/2020 - 10:38