NWU-kundige is mederedakteur van nuwe handboek oor diversiteitsbestuur

Dr Leon Moolman, ʼn senior lektor in arbeidsverhoudingebestuur, begin die jaar op ’n vreugdevolle hoogtepunt nadat hy sy eksemplaar van die pasgepubliseerde handboek, Managing Diversity in the South African workplace, ontvang het. 

As een van die mederedakteurs van die handboek is dr Moolman baie opgewonde oor die bydrae wat deur die publikasie gemaak word om ’n meer inklusiewe en bevorderlike werkplek te skep.

As ’n kundige op die gebied van diversiteitsbestuur fokus dr Moolman op die rol wat doeltreffende diversiteitsbestuur in die bestuur van goeie arbeidsverhoudinge binne die Suid-Afrikaanse werkplek speel.  

Volgens hom vereis diversiteitsbestuur ’n bepaalde klem op menseregte, asook die waardering en erkenning van die uniekheid en bydrae van elke werknemer.

“Wanneer bogenoemde bereik word, sal die werkplek gekenmerk word deur ’n verhoogde bewustheid van en respek vir ’n verskeidenheid diversiteite wat tot by seksuele oriëntering en genderidentiteit, asook die uitdrukking van gender, strek,” verduidelik dr Moolman. Hy voeg by dat organisasies in Suid-Afrika moet besef dat dit deurslaggewend is om ’n goeie beleid en strategie te hê om diversiteit as ’n sleutelaanwyser van langtermyngroei en -sukses te bestuur.  

*Die mederedakteur van die publikasie is prof Nasima MH Carrim, ’n medeprofessor in die Departement Mensehulpbronbestuur aan die Universiteit van Pretoria.

Die pasgepubliseerde handboek.

Dr Leon Moolman.

 

Submitted on Mon, 01/20/2020 - 16:01