NWU gereed vir 2022- akademiese jaar

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het op Vrydag 18 Februarie sy amptelike akademiese opening op sy Mahikengkampus aangebied. As gevolg van Covid-19-regulasies het talle van die ander NWU-personeel en nuwe sowel as terugkerende studente die geleentheid virtueel bygewoon.

Uitvoerende dekane van die NWU se agt fakulteite het ook hulle onlangse suksesse en planne vir die jaar wat voorlê met studente, personeel en lede van die publiek gedeel.

Onder die hoogtepunte was die hoop wat prof Awie Kotzé, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, uitgespreek het dat die NWU hierdie jaar uiteindelik goedkeuring vir die stigting van ’n mediese skool sal kry.

’n Proses om ’n mediese skool in Noordwes te vestig, het ’n hele paar jaar gelede begin en ’n multibelanghebberspan, wat die regering insluit, is in 2021 byeengebring om die suksesvolle verwerkliking van hierdie projek te probeer moontlik maak.  Lees hier verder….

NWU-studenteleiers het vroeër in die dag by die waarnemende visekanselier en hoof, prof Linda du Plessis, aangesluit tydens ’n buite-uitsending van die SABC om verskeie kwessies wat studente raak, te bespreek.

Die belangrikste hiervan was verduidelikings wat gegee is rondom die NWU se pogings om inentings vir studente en personeel aan te moedig, kwessies oor historiese skuld, asook verblyftekorte wat weer na vore gekom het. Die NWU se Mahikengkampus het verlede week ’n nuwe studentebehuisingskompleks geopen waar daar aanvanklik 324 studente gehuisves sal word. Lees hier verder….

Prof Linda het al die universiteitspersoneel en studente met die NWU se akademiese prestasies van verlede jaar gelukgewens. Volgens haar het 59% van alle studente wat geregistreer het al hulle modules geslaag, terwyl ongeveer 20% slegs een module gedruip het.

Tot dusver het die NWU 10 500 geregistreerde eerstejaars op al drie sy kampusse wat op 98% van die inskrywingsmikpunt neerkom. Die universiteit het ook vordering gemaak met die toename in die getal van sy NNS-gegradeerde navorsers, van wie talle aan die einde van verlede jaar bevorder is, sê prof Linda.

Die NWU het ook aangekondig dat hulle vanaf volgende week R286 miljoen beskikbaar gaan stel vir studente wat deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) befonds word.

Prof Linda sê hierdie kontantinspuiting is genoodsaak deur die feit dat die NSFAS die studentetoelaes eers vanaf April hierdie jaar sal kan betaal.

Gegewe hierdie situasie, het prof Linda gesê in die lig van die 88%-registrasiekoers is studente gereed om met hulle studies te begin, en die instelling het dus ’n “vaste platform om hierdie akademiese jaar op 21 Februarie te begin”.

....

 Prof Linda saam met studenteleiers

....

 Prof Linda du Plessis het al die NWU-studente en -personeel geloof vir hulle buitengewone prestasie ten spyte van die Covid-19-krisis

....

Prof Awie Kotzé, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, sê hy is vol vertroue dat die NWU hierdie jaar uiteindelik goedkeuring vir ’n mediese skool sal kry

Submitted on Mon, 02/21/2022 - 16:01