NWU baanbreker lei internasionale vereniging vir stelselwetenskap

Die wêreld is ’n betowerende plek vol interessante gebeure en voorvalle. Dit vind nie in isolasie plaas nie, en om die ingewikkeldhede van enige gebeurtenis of interaksie ten volle te verstaan, is dit belangrik om die “groter prentjie” daaragter te ondersoek.

Dit is kortliks waaroor stelselwetenskap gaan. Dit gee aan die navorser die gereedskap om ’n breër begrip van die kompleksiteite van ’n probleemsituasie te kry. Die dissipline staan teenoor reduksionisme, waar die veranderlikes in die probleemsituasie verminder word om die impak van elke individuele veranderlike te verstaan. Mense wat stelsels in ag neem, aanvaar kompleksiteit en bestudeer die interverwantskappe in ’n situasie.

’n Akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het die eerste Suid-Afrikaner en NWU-personeellid* geword om as die aangewese president van die International Society for the Systems Sciences (ISSS) verkies te word.

Prof Roelien Goede van die NWU se Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe sal vir ’n driejaartermyn aan die hoof van die ISSS staan. Dit behels die eerste jaar as aangewese president, die tweede as president en die derde as oudpresident. Roelien sal spesifieke verantwoordelikhede vir elk van hierdie jare hê.

Sy is sedert 2014 by die vereniging betrokke en het verskeie rolle beklee, soos dié van visepresident vir publikasies, visepresident vir openbare betrekkinge en lidmaatskap, en die voorsitter van die spesiale integrasiegroep vir aksienavorsing.

Soek antwoorde op kompleksiteite in die werklike wêreld

“Ek het in die rekenaarwetenskappe gestudeer en terwyl ek as programmeerder gewerk het, het ek besef dat die metodologieë wat ek bestudeer onvoldoende is om die kompleksiteite van die werklike wêreld te hanteer.”

Haar belangstelling in stelselwetenskap het begin terwyl sy sowat twee dekades gelede met haar PhD-graad in besigheidsintelligensie besig was. “Ek het onmiddellik besef dat dit vir my nuttige metodes en benaderings gegee het om sin te maak van die wêreld waarvan ek deel is.”

Roelien het in 2012 die vakkundige wêreld van stelselwetenskap formeel betree nadat sy die Lugano-somerskool oor stelselontwerp bygewoon het. Sy het in 2018 deel van die ISSS-raad geword.

As president word sluit sy aan by die geledere van bekende vakkundiges soos Geoffrey Vickers, Russell L Ackoff en Ervin Lazlo, wat almal vir ’n spesifieke termyn aan die hoof van ISSS gestaan het.

Sy is baie opgewonde om die ISSS te lei. “Om verkies te word, is vir my ’n internasionale erkenning vir my bydrae tot die wetenskap. Dit is vir my ’n groot eer.”

“My rol sal wees om die vakkundige ontwikkeling van die dissipline van stelselwetenskap te bevorder. Ek glo dat ons as stelselwetenskaplikes ’n groot bydrae kan maak tot ons wêreld, wat deur ’n volhoubaarheidskrisis, onreg teenoor minderhede en ander wêreldwye sistemiese probleme bedreig word.”

Haar huidige verantwoordelikhede sluit in dat sy ’n tweeweeklikse simposium vir ISSS-lede moet reël. Sy help ook om die ISSS-webblad te bevorder en sy redigeer die vereniging se nuusbrief.

Roelien het ’n passie vir stelselwetenskap en wil graag toesien dat meer jong mense entoesiasties daaroor raak en betrokke raak by die vakwetenskap, byvoorbeeld deur ISSS-lede te word.

Dit is waarom sy enigeen wat in stelselwetenskap belangstel, uitnooi om vir haar ’n e-pos by Roelien.Goede@nwu.ac.za te stuur.

Om meer oor die International Society for the Systems Sciences te lees, besoek ISSS.org.

*Volgens Roelien het ’n voormalige NWU-personeellid, prof Ockie Bosch, ook as president van die ISSS gedien. Hy het reeds die diens van die NWU verlaat en na Australië geëmigreer teen die tyd dat hy in 2016 verkies is.
........

Prof Roelien Goede sê stelselwetenskap word in alle dissiplines toegepas, met sleuteltoepassings in omgewingswetenskap, gesondheidswetenskappe en organisatoriese stelselbestuur soos projekbestuur en inligtingstelselbestuur.

Submitted on Tue, 09/14/2021 - 13:57