NWU athletes shine at CAA African Athletics Championships

Atlete van die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n uitmuntende prestasie gelewer by die Afrika-atletiekkampioenskap van die CAA wat onlangs in St Pierre, Mauritius gehou is. Dit is die derde keer dat Mauritius die gasheer was van die geleentheid nadat die 1992- en 2006-kompetisies ook daar gehou is.

Suid-Afrika het 36 medaljes verower by die byeenkoms, wat van 8 tot 12 Junie gehou is. Dit is die meeste medaljes sedert 1993. Hierdie yslike getal het Suid-Afrika in staat gestel om tweede te eindig, net ná Kenia, hoewel die Keniane net 23 medaljes kon inpalm.

Onder diegene wat in hierdie kompetisie geskitter het, was ’n groot groep atlete wat by die NWU geaffilieer is. Jo-Ané van Dyk het die goue medalje in spiesgooi met ’n gooi van 60,65 m gewen, Alan Cumming het goud gewen met die hamergooi met ’n afstand van 69,13 m, Ryan Williams het brons in die diskus gewen met ’n gooi van 56,70 m en Valco van Wyk het ook brons gewen met ’n hoogte van 4,90 m in die paalspring.  

Joné Kruger het ook haar kant gebring toe sy vierde in die verspring geëindig het, en so ook Riette Heyns in die diskus, Tamzin Thomas in die 200 m en Johann Grobler in die spiesgooi. Karmen Fouché en Marga Cumming het albei vyfde in onderskeidelik die verspring en die hamergooi klaargemaak, terwyl Marissa Swanepoel sewende in die 20 km-stapwedloop geëindig het.

In totaal het Suid-Afrika al agt keer in die topposisie geëindig sedert hulle vir die eerste keer in 1992 aan die kompetisie deelgeneem het. Hulle is saam met Nigerië in die eerste posisie, terwyl Kenia derde is met vyf oorwinnings. Die gebeurtenis is vir die eerste keer in 1979 in Dakar, Senegal aangebied, maar Suid-Afrika het nie toe deelgeneem nie omdat ons van wêrelddeelname uitgesluit was. Op die algehele lys van medaljes is Nigerië voor met 160 goue medaljes, Kenia het 154 en Suid-Afrika het 138. Volgende is Algerië met 77 goue medaljes, wat ’n aanduiding is van hoe ver die eerste drie voor die res is. Wat die algehele getal medaljes betref, het Nigerië 379 medaljes, Kenia het 405 en Suid-Afrika 375.                                                        

   .......      

Marga en Alan Cumming                                                    

Submitted on Thu, 06/23/2022 - 09:47