NWU-alumni en personeel by die seremonie vir lede van die Golden Key-erevereniging vereer

Die erkenning van lede van die Golden Key-erevereniging is ’n buitengewone viering van briljantheid wat die voortreflikste denkers en talentvolste individue vir hulle onwrikbare bydraes tot die Golden Key-vereniging vereer.

Hoewel elke universiteit sy eie bekendstellingseremonie het, bied die Golden Key International Honour Society ’n jaarlikse virtuele gebeurtenis aan om al die universiteite se erelede gesamentlik te vereer. Die NWU se Potchefstroomkampus het sy seremonie op Maandag 31 Julie 2023 gehou, en die Mahikengkampus het sy viering op Vrydag 11 Augustus 2023 gehad. Vier dae later, op Dinsdag 15 Augustus 2023, het die Vanderbijlparkkampus sy seremonie aangebied. Daarbenewens is ‘n opname van die virtuele gesamentlike erkenningseremonie vir alle lede van die vereniging vir 2023 op Woensdag 31 Januarie 2024 vrygestel.

Tydens haar verwelkomingstoespraak het Gillian Cloete, streeksdirekteur van die Golden Key International Honour Society Southern Africa, elke lid geloof wat deur die studente gekies is op grond van hulle akademiese prestasie, leierskapsondersteuning en ’n belangstelling in gemeenskapsdiens.

“Lidmaatskap van die Golden Key-erevereniging is die getuienis van ons nuwe lede se ongelooflike prestasies, toewyding en leierskap. Wees verseker dat julle pogings tallose ander geïnspireer het en gedien het as ’n riglyn vir ’n ambisieuse geslag. Deur hierdie gesogte eer te aanvaar, sluit julle by ’n elite groep individue aan wat ’n betekenisvolle impak op die samelewing maak. Ons verwelkom julle vandag hartlik by ons familie, ’n netwerk van buitengewone individue wat deur ’n gedeelde begeerte aangevuur word om mekaar te bemagtig en op te hef.”

Die volgende NWU-alumni en personeellede is vereer en by die Golden Key International Honour Society verwelkom:

Nomxolisi Xoli Moagi; dr Portia Monnapula-Mazabane; Poloko Mmakgolane; dr George Mothupi; dr Thabo Tshabalala; me Lindiwe Ka Mntambo-Modise; me Candice Chirwa, en me Velaze Vinolia Mabele. Prof Sonia Swanepoel, adjunk-visekanselier vir Gemeenskapsbetrokkenheid en Kampusbedrywighede: Mahikengkampus, het die lys voltooi.

“Dit is ’n eer om geassosieer te word met een van die grootste ereverenigings wat by meer as vierhonderd universiteite aktief is,” het prof Swanepoel gesê. Sy het bygevoeg: “Ek is dankbaar en voel nederig om hierdie erkenning te ontvang. ‘Uitnemendheid in alles wat ons doen’ is een van ons universiteit se waardes en Golden Key bevorder akademiese uitnemendheid, wat ons waardes onderskryf.”

Die NWU wens die alumni en personeel geluk wat onlangs as lede van die Golden Key International Honour Society ingelyf is. Hulle het hulle vermoë gedemonstreer en hulle verkiesing is op hulle sukses gegrond. Mag hulle altyd kennis najaag, ’n lewe van diensbaarheid lei, en hulle volle potensiaal bereik.

Submitted on Tue, 02/13/2024 - 10:52